MOSSELBAAI NUUS - "Veiligheid is almal se probleem en uitdaging. As gemeenskap moet ons saamwerk om 'n veilige omgewing te skep waarin ons kinders met gemoedsrus kan rondbeweeg, waarin ons ouer garde veilig in hul huise kan wees, en wat sal bydra tot ekonomiese groei."
Dít is die mening van die nuwe, eerste portefeuljevoorsitter vir die burgemeesterskomitee vir gemeenskapsveiligheid, raadslid Niklaas Booisen wat Dinsdag, 15 September tydens 'n spesiale raadsvergadering aangewys is.
Booisen is passievol oor gemeenskapsveiligheid en het hom daartoe verbind om binne die raamwerk van die wet asook die Mosselbaai-munisipaliteit se veiligheidsplan, alles moontlik te doen om veiligheid te bevorder.
Die munisiale raad het tydens die maandelikse raadsvergadering op 28 Augustus 'n aanbeveling vir die hersiening van die munisipale organisatoriese makrostruktuur goedgekeur om uitvoering te gee aan 'n verskerpte fokus op gemeenskapsveiligheid.
Die afdelings brand-, reddings- en rampbestuursdienste, verkeers- en wetstoepassing, die senior omgewingsbeampte en veiligheidsdienste, gaan gevolglik voortaan onder die nuutgeskepte komponent gemeenskaps-veiligheid, onder leiding van Colin Puren, die uitvoerende bestuurder funksioneer.
Die voorgenome gesamentlike rampbestuursentrum (JOC) sal 'n integrale deel van hierdie fokus uitmaak.
Voorts sal die direktoraat korporatiewe dienste verantwoordelik wees vir die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) en openbare deelname, terwyl die regs- en nakomingseenheid direk aan die munisipale bestuurder verslag sal doen.
'n Aantal veranderings aan mikrostrukture, meestal met betrekking tot die direktoraat finansies, is ook goedgekeur om effektiewe dienslewering te verbeter.
Dié wysigings is vanaf 1 Oktober van krag.
"Dit is ons strewe om Mosselbaai nie net die beste munisipaliteit nie, maar die veiligste gemeenskap in Suid-Afrika te maak. Investering en werkskepping gedy in 'n veilige omgewing," sê raadslid Booisen. Hy meen die munisipaliteit se veiligheidsplan 2018 - 2020 sal stukrag gee aan die hernude fokus op gemeenskapsveiligheid.
Openbare deelnameproses
"Die munisipaliteit sal binnekort die gemeenskap se insette ten opsigte van gemeenskapsveiligheid deur middel van 'n openbare deelnameproses bekom."
Booisen sê 'n forum vir gemeenskapsveiligheid word in die vooruitsig gestel.
Daar sal ook voortgebou word op die uitstekende samewerking wat reeds gevestig is. Hy het genoem dat befondsing en die beskikbaarheid van genoegsame en opgeleide personeel 'n uitdaging is en het 'n uitnodiging aan onderskeie buurtwagte gerig om te verseker dat hulle behoorlik saamgestel en geakkrediteer is.
Ter afsluiting het Booisen, raadslid Anton Dellemijn bedank wat die verantwoorde-likheid vir gemeenskapsveiligheid op hom geneem het en hom geloof vir sy uitnemende werk om verhoudinge met die onderskeie rolspelers te vestig en uit te bou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'