Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die Mosselbaai-munisipaliteit het verlede week projekte in Groot-Brakrivier amptelik ingewy.
'n Paar jaar gelede is daar na die uitleg van die munisipale depot in Groot-Brakrivier gekyk sodat dit optimaal benut kon word.
Met tyd het departemente die nodige fondse beskikbaar gestel om dit op te gradeer ten einde dit meer funksioneel te maak sodat dit terselfdertyd munisipale bates kan beskerm. Die afdak wat vir die parke-afdeling opgerig is, sal mettertyd soos fondse beskikbaar raak langs die kante toegemaak word en met 'n hek kan sluit.
Tans was daar net voldoende fondse om die een muur en dakstruktuur te kan doen. Die oogmerk is dat die voertuie van die parke-afdeling in Groot-Brak daar gestoor word en dat die oop spasie net langs die afdak dan aangewend word om moontlik nog 'n vraghouer te plaas om kleiner toerusting in te stoor.
Fotogalery: Muni projekte in Groot Brak ingewy
Die Onafhanklike Entrepreneursvereniging (OEV) het 'n paar maande gelede aangedui dat hulle bankies wil skenk om in die park lang die munisipale geboue op Groot-Brakrivier te plaas. Dit is die terrein waar die Groot Brak Mark maandeliks deur die OEV aangebied word. Die bankies het ten doel om onder andere sitplek aan die mark se besoekers te bied.
Kyk 'n video hieronder:
Amptenare van die parke-afdeling het die terrein besoek om plekke te bepaal waar die bankies geplaas kon word. Tydens die besoek het hulle besef dat die hele gedeelte baie beter aangewend kan word deur 'n paar veranderinge te maak. Die plan is na die finalisering van die jaar se begroting vasgemaak en is daar dus nie daarvoor begroot nie. Die werk is met die hulp van die boubeheer-, elektriese, strate en stormwater-afdelings gedoen.
Die parke-afdeling het beddings verander, gras geplant waar paadjies uitgehaal is, klippies gegooi waar nuwe paadjies gemaak is, 'n veilige wandelpad gebou en pragtig tuin gemaak. Op 2 September is 16 essenhoutbome in die area geplant as deel van Boomplantmaand en om die park te vergroen. Die nuwe gras groei mooi en die area bied nou 'n uitgebreide spasie vir die publiek asook vir die Grootbrak Mark.
As deel van die verfraaiing van die tuine rondom die munisipale gebou in Groot-Brakrivier, het waarnemende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé 'n boom geplant om nasionale boomplantdag te vier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'