MOSSELBAAI NUUS - 'n Mosselbaai-munisipale amptenaar het die fluitjie op vermeende korrupsie geblaas toe ‘n sekuriteitsmaatskappy skynbaar met omkoopgeld probeer verseker het dat ‘n munisipale tender aan 'n Gautengse maatskappy toegeken word.
Die munisipaliteit het daarna die polisie genader en, na ‘n deeglike ondersoek, is ‘n lokval deur die Valke gestel waarna ‘n vrou van Mosselbaai en ‘n man van Gauteng in verband met bedrogklagte van ongeveer R27 miljoen gister in hegtenis geneem is.
Beide is nie aan Mosselbaai-munisipaliteit verbonde nie.
Woordvoerder van die Valke, lt kol Siyabulela Vukubi sê die verdagtes is onderskeidelik 48 en 30 jaar oud.
Die verdagtes het na bewering tydens ‘n lokval wat vir hulle gestel is probeer om die tender van nagenoeg R27 miljoen in die guns van 'n Gautengse sekuriteitsmaatskappy te beïnvloed.
Die munisipaliteit publiseer elke drie jaar ‘n soortgelyke tender vir sekuriteitsdienste.
Die verdagtes sal môre in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’