Mr Loverman se stem is stil

Rodney Constance, vir sommige 'n geliefde onderwyser, vir ander die bekende stem van Mr Loverman, 'n geliefde omroeper by Eden FM, is die naweek oorlede, enkele weke voor sy verjaarsdag op 23 Augustus.

MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers, die skolegemeenskap en Eden FM-luisteraars is geruk deur die afsterwe van Rodney Constance (55), wie is liggaam Sondagoggend, 6 Augustus op Danabaai se tweede strand gevind is. 

Constance het Saterdagaand alleen gaan visvang en is Sondagoggend deur lede van die gemeenskap wat die KwaNonqaba-polisie ontbied het, by sy visvangplek teëgekom. Hy is op die toneel dood verklaar. Volgens inligting is hy aan natuurlike oorsake oorlede.

'Sy stoel is leeg.'
Moira Fillies, skoolhoof van Erika Primêr sê dat Constance se toewyding aan kinders ongeëwenaard was. Hy was 23 jaar lank 'n opvoeder aan die skool. Hy het onder meer onderrig gegee in die kunste, graad 4-7, 'n vak wat by sy belangstellings gepas het, aldus Fillies.

"Sy verhouding met die kinders as altyd gekenmerk aan sy eie kinderlike sin vir humor, sy grappies en sy onskuldige naamnoemery. Rodney se kollegas het altyd geskaterlag nadat hulle met hom gesels het," vertel Fillies.

Hy het ook 'n slag gehad om met moeilike leerders te werk en sy insette in dissiplinêre prosedures, was van groot waarde.

"Sy onbaatsugtige diens aan die skool, soms ten koste van homself, sy diepe omgee vir kinders wanneer hy uit sy die sak kos aan sy landloopatlete voorsien het, sy ligtelike geskerts oor alles en almal - dit sal ons beslis mis. Selfs sy onwrikbare standpunte oor sake wat hom diep raak, het hy hom duidelik daaroor uitgespreek."

"Een van ons eie is nie meer. Sy stoel is leeg."

Mr Loverman
Erepresident van Eden FM, pastoor Leon Prinsloo sê dat Rodney Constance 'n manier gehad het om in mense harte in te kruip. "Hy was veral goed met liefdesake, om mense in moeilike tye te bemoedig. So op die lug, het hy in hulle huise ingekom en hulle aangeraak."

"As ek so van plekke af gery het in die aand, het ek altyd geluister na hoe mooi hy met die luisteraars praat. Sagte woorde en bemoedigend. Ek hoor nog sy stem wat sê 'Mr Loverman is innie huis'," onthou past Prinsloo.

Bestuurder van Eden FM, Morné Petersen sê sedert Constance se afsterwe, stroom die huldeblyke in. "Hy was 'n baie geliefde omroeper. Luisteraars het dikwels van die verste areas in die streek na die ateljee toe gery om hom te kom ontmoet. Hy het ongelooflik baie moeite gedoen om vir die luisteraars die musiek te speel wat hulle aanvra."

Petersen beskryf Constance as 'n wandelende musiekensiklopedie. "Rodney het tot 300 liedjies per dag afgelaai en hy het 'n netwerk van mense gehad in die groot stede waar hy musiek gaan aanskaf het."

Petersen se sy vermoë om luisteraars met sy musiekkeuse terug te neem na hulle jong dae was besonders. "Hy kon daardie nostalgie skep."

Musiek en visvang
Roxley Constance beaam dat musiek sy pa se groot liefde was. Dit en visvang. "Sagte jazz was my pa se gunsteling musiek en hy was besonder lief vir die musiek van Lionel Richie".

Dis moeilik vir hom om te kan sê presies wat hulle van sy pa sal mis. "Ons sal hom mis vir wie hy was. Hy het altyd geglimlag. Hy was altyd dieselfde. Hy sou nooit sy hartseer gevoelens na buite wys nie."

Vir sy twee seuns, was hy 'n mentor. "Met enigiets wat in my en my broer se lewens verkeerd geloop het, sou ons my pa altyd eerste kon bel. Hy was altyd gereed om ons by te staan"

Rodney Constance word oorleef deur sy vrou Gail, sy seuns Roxley en Gavin en sy kleindogter, Tasmia.

Huldedienste
Daar word vanoggend 'n huldediens vir Rodney Constance gehou by Erika Primêre Skool. Eden FM saai regstreeks daarvandaan uit. 

Die begrafnisdiens is môre, 12 Augustus om 09:00 by Romanstraat 51, Uitbreiding 13 en om 10:00 vanuit die Eveangeliese Lutherse Kerk, Uitbreiding 6.

'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'


Your comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Mossel Bay Advertiser