MOSSELBAAI NUUS - Twee motorfietsryers wat langs Louis Fourieweg naby die landdroshof langs die pad gestaan het, is beseer nadat 'n motor hulle getref het in wat as 'n fratsongeluk beskryf kan word.
Na bewering het Kenny van Niekerk se motorfiets sonder brandstof gaan staan. Hy het sy seun, Eben gekontak vir hulp.
Terwyl hy op Eben gewag het, het 'n ander motorfietsryer, Paul Barrat van Danabaai by hom gestop.
Waarom die bestuurder van 'n rooi Volkswagen Jetta beheer oor sy voertuig verloor het en die twee motorfietsryers raakgery het, word tans ondersoek.
Die voertuig het beide die motorfietsryers getref en met ernstige beserings gelaat.
Mosselbaai se nooddienspersoneel was vinnig op die toneel om hulp te verleen. Kenny is na die Life Bay View-hospitaal geneem waar hy teen druktyd steeds in die noodeenheid behandel is.
Die ander motorfietsryer is na die Mosselbaai Provinsiale hospitaal geneem. Die woordvoerder van Wes-Kaap Gesondheid, Nadia Ferreira het bevestig dat hy sedertdien na die George Provinsiale hospitaal oorgeplaas is.
"My pa het baie seer gekry. Dokters het Maandagaand drie keer op hom geopereer om inwendige bloeding te stop. Benewens 'n gebreekte bekken, is 'n knie vergruis en beide sy sleutelbene gebreek," sê Eben.
"Ek was op pad na my pa toe met die brandstof toe ek op die ongelukstoneel kom. Ek kan nie die skok wat ek beleef het beskryf nie. Ek kon skaars my selfoon gebruik om my ma te kontak," vertel Eben.
Hy beskryf sy pa as 'n werklik saggeaarde mens wat altyd uit sy pad gaan om ander te help en by te staan. Die gesin geniet ondersteuning van familie en vriende en word van regoor Suid-Afrika deur motorfietsryers onderskraag.
Die ander motorfietsryer se naam was teen druktyd nog nie bekendgemaak nie. Hy is sover bekend vir frakture in die Mosselbaai provinsiale hospitaal behandel.
Na bewering het die bestuurder van hierdie Volkswagen Jetta, 'n persoon in sy sewentigerjare oor twee bane op Louis Fourieweg beweeg voordat die voertuig die motorfietsryers en motorfietse getref het.
Aansienlike skade is aan beide motorfietse aangerig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'