Die tragedie is egter dat hierdie ma van vier steeds gewikkel is in 'n stryd om vas te stel waar Amiera, wat nou ses jaar oud is, haar bevind.
"Alaa en Amiera sou ses weke in Egipte kuier en ons het voorsie-ning daarvoor gemaak dat ek ge-reeld telefonies met haar sou kon gesels. Haar laaste woorde aan my was nog 'kom mammie kom' in Arabies."
Trane onderbreek die res van Kennedine se vertelling.
Op 7 Julie 2011 kry Kennedine egter die nuus van Alaa dat Amie-ra blykbaar onder 'n vragmotor beland het en dood is. In reaksie hierop, het hy die vragmotorbe-stuurder glo tydens 'n konfrontasie met 'n mes doodgesteek. Hierdie nuus deel hy die geskokte Ken-nedine mee vanuit 'n 'tronk' waarin hy glo na afloop van die insident aangehou is.
Met hulle volgende kontak 'n dag later, moes Kennedine verneem dat Amiera boonop volgens die Moslem-gebruik, reeds begrawe was.
"Dit was alles net ongelooflik. Uit desperaatheid om meer inligting te kry, het ek Alaa se broer in George, asook van sy ander vriende in Suid-Afrika gekontak. Hulle het almal die gebeure be-vestig."
Kennedine was hierna nog in kontak met Alaa, wat haar sy woord gegee het dat hy sou terugkeer na Suid-Arika met Amiera se doodsertifkaat.
'n Niggie van Kennedine in Ne-derland, Yvette Boeijenga, het egter by verdere navraag aan die Suid-Afrikaanse owerhede uitgevind dat hulle Egiptiese eweknieë nie 'n doodsertifikaat vir Amiera kon opspoor nie. Inteen-deel, het hulle bevestig dat Amiera Egipte wel binnegegaan het en dit nog nooit verlaat het nie.
Verder is daar uitgevind dat Amiera reeds as Egiptiese burger geregistreer is.
"Ek kon nie glo dat iemand so iets wreeds aan 'n ander kon doen nie. Toe ek Alaa hiermee konfronteer, het hy alle kontak tot hede toe verbreek."
Soektog op 'n dooiepunt
Die lys van plekke waar Kennedine aangeklop het vir hulp is skynbaar eindeloos en meeste van haar navrae loop op 'n dooiepunt uit.
In 'n neutedop, word die onderhandelingsproses om Amiera terug te kry in Suid-Afrika bemoeilik deur die feit dat Egipte nie soos Suid-Afrika die Verenigde Nasies se Den Haag Konvensie onderteken het nie.
Hierdie verdrag is onder meer in plek gestel om kinders spoedig na hul tuislande te laat terugkeer in gevalle waar die kind wederregtelik deur 'n ander ouer weggevat is.
Regskenners meen dat Ken-nedine kan probeer om 'n verklarende bevel in 'n Suid-Afrikaanse hof te verkry, wat uitstip dat die kind wederregtelik in Egipte is. Hierna kan sy aansoek doen by 'n geskikte Egiptiese hof om die Suid-Afrikaanse hofbevel afdwing-baar te maak in sy jurisdiksie, sodat Amiera kan terugkom Suid-Afrika toe.
Tot dusver dui alles egter daarop dat Kennedine self haar pad na Egipte sal moet vind, waar sy tot die stryd sal moet toetree om haar kind nie net te probeer terugkry nie, maar ten minste te kan sien.
"My vrees is dat sy reeds in die huwelik beloof is aan iemand. In Egipte is dit nie ongehoord dat meisies al op 12-jarige ouderdom trou nie," sê Kennedine.
Stap vir Amiera
Intussen het Kennedine se storie in Huisgenoot Kuier (7 Mei) verskyn en op die manier via sosiale netwerke versprei, wat heelwat steun vir haar saak opgelewer het, maar dit bly steeds 'n mynveld van regs- en wetlike prosesse wat moeilik in plek gaan val.
Faizel Porter, wat na homself verwys as 'n sosiale aktivis, het plaaslik besluit om Amiera se saak op te neem.
"Juis met die aanvang van Vrouemaand, beplan ons 'n vreedsame optog op Vrydag, 8 Augustus, om die gemeenskap, veral vroue en kinders, bewus te maak van waaksaamheid ten opsigte van kinderontvoering."
Die optog, wat ondersteun word deur verskeie plaaslike skole, eindig by die moskee in Mosselstraat, D'Almeida, waar verskeie memorandums om 13:00 oorhandig sal word aan rolspe-lers wat 'n bydrae tot die moontlike oplossing van hierdie saak kan lewer.
"Ons versoek 'n onmiddellike opvolg van die saak deur die SAPD, by wie Amiera se verdwyning in 2011 aangemeld is. Die saak is egter intussen gesluit.
"Ons wil ook die Department Sosiale Ontwikkeling betrek vir emosionele ondersteuning van die gesin, ook wat betref die voorbereiding vir beide partye vir Amiera se moontlike terugkeer.
"Dit is ook vir ons belangrik dat Islamitiese godsdienstige leiers kennis neem van hulle verantwoordelikheid om aan te dui dat hierdie daad onmenslik is en dat hulle 'n wesenlike rol kan speel as bemiddelaars."
Diegene wat aan die optog wil deelneem word versoek om pienk te dra.
"Mamma's, beskerm julle kinders en spandeer baie tyd met jou kind. Dieselfde geld vir pa's, want as daar iets gebeur dat jy jou kind verloor, verloor jy die beste jare van hulle en ook jou eie lewe," sê Kennedine.
Vir meer inligting, kontak Faizel Porter by 084 275 9939.
Amiera soos sy in 2011 gelyk het. Sy was toe twee jaar oud.
Amiera, kort voor haar verdwyning, besig om 'n roomys te eet by die Punt.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'