TUINROETE NUUS - Vier van die vyf beskuldigdes wat onlangs in Oudtshoorn vir die besit van ongeslypte diamante voor die hof gedaag is, is Mosselbaaiers, onder meer 'n man wat glo as bestuurder van 'n bekende hotel op die dorp werksaam was.
Die beskuldigdes van Mosselbaai is Jagdeep Singh Multani, Moeketsie Matjoba, Martin Bota en Mongeotywa Fefe van KwaNonqaba.
Bota (31), Matjoba (31), Singh Multani (28) en Fefe (33) is op 28 Augustus op die parkeerterrein voor die Pick n Pay Mall in Oudtshoorn gearresteer nadat twee ongeslypte diamante van sowat R20 000 in hul voertuig gevind is. 'n Vyfde verdagte, Divan Ernest (25) van Oudtshoorn is later in hegtenis geneem.
Drie van die vyf beskuldigdes, wat vir die besit van ongeslypte diamante aangekla is, is deur landdros Johan Steynberg in die Oudtshoorn-landdroshof borgtog van R2 000 gegee. Die staat het nie borgtog teengestaan vir Multani, Fefe en Ernest nie.
Die Mossel Bay Advertiser se susterskoerant, die Oudtshoorn Courant berig dat landdros Steynberg op Maandag, 3 September borgtog aan Multani, Fefe en Ernest toegestaan het. Borgtog aan Botha en Matjobe is geweier.
Beide is burgers van Lesotho en kon die hof Maandag nie oortuig dat hulle oor wettige verblyfpermitte vir Suid-Afrika beskik nie. Die staat het borgtog teengestaan omdat Bota en Matjobe 'n vlugrisiko is. Landdros Steynberg het die saak vir verdere ondersoek tot 26 Oktober uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'