Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Vintage motors, stof, stof en nog stof - dis waarvoor jy jouself inlaat sou jy die pad na Van Wyksvlei aandurf vir die Weg Ry & Sleep Bull Run.
"Maar dit bly baie lekker," sê Corné Pienaar, een van die lede van die wenspan, Mad Max, hier van eie bodem.
FOTOGALERY: Vintage motors, stof, stof en nog stof
Vir diegene wat onbekend is met die Bull Run, dis 'n geleentheid waar motorentoesiaste op Van Wyksvlei bymekaarkom en hul staal agter die stuur wys - en dit alles in die stof.
Daar is natuurlik 'n reeks vereistes waaraan die motors moet voldoen, maar die belangrikste daarvan is die ouderdom en koste. Die model van die ryding mag nie jonger as 1985 wees nie, en ook nie meer as R40 000 kos nie.
Vanaf 5 tot 8 Oktober vanjaar is die geleentheid vir die 12de keer aangebied - Corné en sy makkers was vir die afgelope ses jaar daar vir al die aksie.
"Dis die eerste keer dat ons wen en ons het dit glad nie verwag nie. Dit was 'n groot verrassing en iets om te vier. Ons is almal lief vir spoed en jaag en aanjaag - almal daar is petrolkoppies."
Hy verduidelik dat die geleentheid uit drie kategorieë bestaan. "Die rally gaan oor tyd, die pan gaan oor skills en dan natuurlik die algeheel, wat bestaan uit beide, en dan ook gees en (baie belangrik) die grootte, prys en jaar van die voertuig."
Daar was ongeveer 160 voertuie. Uit dié het Mad Max vierde gekom in die rally en op die pan, en dan algeheel eerste. Hulle het 'n Datsun 1200 GX 1975.
Mad Max het bestaan uit twee deelnemers, dis nou Corné en Cobus de Klerk, en twee ondersteuners, Henco Pienaar en Henk Loots. Die ondersteuners neem deel aan speletjies vir punte, en is nie in die voertuig self nie.
Elk van die spanne het 'n tema, en die uitbeelding daarvan tel ook punte.
Corné sê almal slaap in tente op Van Wyksvlei se munisipale grond met geen koelte bome nie en nét stof, maar dit neem nie weg van die pret nie. "En baie van die geldinsamelings gaan vir droogtehulp en dis 'n groot boost vir die dorp."
VIDEO - Mosselbaaiers skop die stof op by Weg Ry & Sleep Bull Run (Video: Linzetta Calitz).
Probleme langs die pad is bloot deel van die avontuur.
Die kampterrein op Van Wyksvlei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’