MOSSELBAAI NUUS - Vir nie al die Mosselbaaiers is die opwinding van die Kwêla-span se besoek aan die dorp nou iets van die verlede nie.
As deel van Mosselbaai se prys om as Kwêla Dorp van die Jaar 2017 bekroon te word, is daar ook 'n advertensie verfilm om te wys wat die dorp en omgewing besoekers kan bied.
Vir die skietery, het Mosselbaaiers ingestaan wat by verskillende voorafgekose toerisme-aantreklikhede hulle lywe akteur moes hou.
Van hierdie plekke het ingesluit 'n plaaslike wynplaas, die Dias Museum, Pinnacle Point-gholfbaan en die grotte daar, en natuurlik van Mosselbaai se mooiste strande.
Daar is ook verfilm by die Diaz Waterpark asook die Life Bay View privaat hospitaal.
Van die ekstras het onlangs hulle vuurdoop in die filmbedryf gehad toe hulle deelgeneem het aan die verfilming van Thys & Trix, wat by Pinnacle Point geskiet is.
Ekstras is verskaf deur Frieda van der Walt van Gemini Solutions, wat ook by Thys & Trix betrokke was.
Die ekstras, wat van jong kinders tot bejaardes insluit, moes plek-plek dinge doen wat nie heeltemal binne hulle vaardigheidsraamwerk val nie, maar het hulle volgens Van der Walt goed van hulle taak gekwyt.
Christo Engelbrecht, senior bestuurder: menslike hulpbronne van die Mosselbaai-munisipaliteit in die Pinnacle Point-grotte saam met die Kwêla-filmspan.
Die sewejarige Jessica Landman het glo die "hoofrol" in die advertensie losgeslaan.
Sy het ook aan die Thys & Trix-produksie deelgeneem.
Dirk Swanepoel en sy vrou Marietha wat verlede jaar in Mosselbaai hervestig het, was heel ingenome met hulle deelname as die "oupa en ouma" in die advertensie.
"Ons ervaring van Mosselbaai is baie positief nadat ons verlede jaar vanaf Pretoria verhuis het.
"Die vriendelikheid van mense en personeel in besighede en winkelsentrums maak inkopies 'n plesier. Geen parkeermeters om oor te bekommer nie," meen Dirk.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'