MOSSELBAAI NUUS - 'n Gesellige atmosfeer het op Woensdag, 9 Junie buite die D'Almeida-gemeenskapsaal geheers waar tientalle inwoners van voor sonop gewag het vir hul beurt om die Covid-19-inenting te ontvang.
Van Woensdag af kan diegene wat korrek geregistreer is en reeds hul SMSe ontvang het, aanmeld by die D'Almeida-gemeenskapsaal en by die Alma-kliniek vir inentings teen die virus.
Binne die D'Almeida-gemeenskapsaal het Sr Meyer en haar span alles blitsvinnig in gereedheid gebring vir die ordelike verloop van die inentingsproses. Areas vir administrasie, wag-areas, twee inentingsareas en selfs 'n area waar diegene wat ingeënt is, vir 'n oomblik kan verpoos voordat hulle huiswaarts keer, was gereed om die publiek te ontvang.
Mosselbaai se Uitvoerende Burgemeester, Raadsheer Harry Levendal, was die eerste om ingeënt te word. So vinnig het die proses verloop, dat hy nie een besef het die entstof is toegedien tot voor die proses afgehandel is nie - pynloos, sê hy.
Ook Mosselbaai-munisipaliteit se Speaker, Raadsheer Petru Terblanche en sy gade het die proses as pynloos, vinnig en flink beskryf en was vol lof vir die personeel se hantering van beide die administrasie en die kliniese prosesse.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'