Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS - 'n Jong Mosselbaaier het die afgelope week, nasionale en selfs internasionale media en marinebioloë aan die gons gehad, met sy boeiende beeldmateriaal van Orcas (moordwalvisse) wat 'n haai vreet.
Christiaan Stopforth (23) van Hartenbos se beeldmateriaal, wat hy met sy hommeltuig geneem het, is 'n eerste in die wêreld wat wys hoe 'n orca die lewer van 'n haai vreet.
Navorsing oor die gedrag van orcas wat 'n prooi se lewer eet, word reeds geruime tyd gedoen.
FOTOGALERY: Christiaan Stopforth se fotografie
Stopforth het aan Mossel Bay Advertiser vertel wat daardie dag op 16 Mei gebeur het.
"Toe 'n vriend by Bonzo's my laat weet dat daar orcas in die water by Hartenbosstrand is, het ek nooit gedroom dat ek sulke unieke beelmateriaal sou neem nie," vertel hy. Hy is haastig in sy bakkie strand toe en het sy hommeltuig sowat 400m van die strand oor die see gevlieg. "'n Hele paar orcas het daar geswem en toe duik almal ondertoe.
"Ek sien toe op die regterkant van die skerm kom twee op - een met 'n dooie haai van ongeveer 2,5m in sy bek. Toe ek die bloed sien uitkom het ek besef hierdie gaan baie, baie cool wees," sê hy.
Stopforth sê een van die bekende orcas genaamd Starboard, wat se rugvin na eenkant lê, het na die riviermonding geswem en toe omgedraai en saam met die ander eiland se kant toe geswem. "Ons het hulle nie weer gesien nie."
Stopforth is 'n seun van die natuur en geniet wat Suid-Afrika se oorvloed hom bied. "Elke dag is 'n nuwe uitdaging met die landskap en diere wat nie een dag dieselfde is nie.
Elke dag is daar byvoorbeeld 'n nuwe haai wat anders optree, elke sonsondergang is anders," sê hy.
Vir hom is daar 'n storie in elke foto met 'n spesiale gevoel. Fotografie en videografie is nie net knoppies druk nie - jy moet 'n oog daarvoor hê.
"Ons kompeteer met die wind, son, wolke en weerkaatsings op die water. Baie ure en batterye word gebruik om die perfekte skoot te kry as jy met 'n hommeltuig vlieg.
Jy moet 'n passie vir fotografie, videografie en die redigering daarvan hê, om daardie warm gevoel te skep sodat iemand meer en meer van jou foto's en videos wil sien," sê Stopforth.
Foto: Christiaan Stopforth
Een van die orcas byt hier aan die lewer van die dooie haai van ongeveer 2,5m. Foto: Videogreep, Christiaan Stopforth
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'