Jaques le Roux (21), wat aan die Hoërskool Punt gematrikuleer het, het saam met sy nefie, Phillip 'Flippie' van Zyl (20), Carike Visagie (19) en Reuben van Wyk (25) het verlede Saterdag by die Tierpoortdam in Bloemfontein vis gevang toe 'n swaar bui reën uitgesak het en hulle skuiling in die tent moes kry.
Jaques het glo 'n helder wit flits gesien en 'n verskriklike slag gehoor. Toe hy bykom, was die ander drie bewusteloos en die tent het gebrand. Hy het die vlamme met kussings probeer doodslaan.
Jacques se bene was lam en hy moes honderde meters ver in die reën kruip, waar hy by ander kampeerders om hulp geroep het.
Nooddienspersoneel het Flippie op die toneel dood verklaar.
Jacques se ma, wat in Mosselbaai woon, me Marietjie Breet, het vanuit Bloemfontein, waar sy haar seun na die tragiese gebeure ondersteun, met die Advertiser gesels.
"Dit was 'n verskriklike gebeurtenis. Die Saterdagaand het iemand vir my oor die foon gesê my kind is dood. Ek was histeries. Ons het hospitale begin bel om toe uit te vind dis nie Jaques wat dood is nie, maar wel sy nefie Flippie.
"Op dieselfde tyd was ek so verlig, maar ook so seer vir die ander ma betrokke."
Jaques het verskeie brandwonde opgedoen en is teen druktyd uit die hospitaal ontslaan. Volgens Marietjie, is hy erg getraumatiseerd en het sy vir hom berading gereël.
Carike het brandwonde aan haar gesig opgedoen en haar kêrel van die afgelope vier jaar, Reuben, was teen druktyd steeds in 'n kritieke toestand in die Pelonomi-hospitaal se brand-eenheid.

'n Onlangse foto van Jo-Pierre, Marietjie en Jaques.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'