MOSSELBAAI NUUS - Die George-musiekvereniging se jaarlikse galakonsert vir die Jong Musikante-kompetisie het op Donderdag, 9 Junie in die George-kunsteteater plaasgevind.
"Na twee jaar van geen kompetisie nie was almal baie opgewonde en dankbaar om weer so 'n geleentheid te kan ondervind," het Sandra Tillbrook, een van die organiseerders, gesê.
"Mathilda Hornsveld en Elmarie van den Vyver, al twee gesoute, welbekende musici het die beoordeling waargeneem. Hulle was baie beïndruk met die talent en ook met die konsep en organisasie van die kompetisie. Die deelnemers het almal 'n groot indruk by die oudisies gemaak, maar na sorgvuldige oordenking het die beoordelaars op die finale wenners besluit."
Deelnemers van oor Tuinroete het ingeskryf.
Mosselbaaier Johan Kotze het die trofee vir beste saksofoonspeler ontvang.
Ludolph Pedro is aangewys as die eerste senior wenner en ook senior pianis-wenner. Samuel Leggatt was die tweede senior wenner. Hulle is al twee klavierstudente van Greta Benade.
Cuemi Tsai is die eerste junior wenner en het ook die trofee vir beste kontemporêre sanger ontvang. Jake Pfeiffer was die tweede junior wenner en het ook die trofee vir beste junior pianis ontvang.
Die trofee vir mees veelsydige musikant is toegeken aan Henco Bester en trofee vir musiek-uitmuntendheid aan Steven Kapp. Nicklen Gelderbloem, kitaarspeler, het die trofee vir beste snaarinstrument ontvang.
Die trofee vir beste junior dwarsfluit het gegaan aan Andrew Brink en senior dwarsfluit aan Janique Meiring. Die trofee vir beste blokfluit het gegaan aan Nadia Meintjes.
Die beste senior kontemporêre sanger was Lujah Diedericks. Die trofee vir die beste klassieke sanger het gegaan aan Kirsten Pharaoh.
Hoërskool Outeniqua Vokale Ensemble was die beste vokale ensemble en Holy Cross Primary Vocal Ensemble die beste junior ensemble. Hoërskool Outeniqua Jazz Ensemble ontvang die trofee vir beste senior ensemble.
Die trofee vir beste duet is aan broer en suster Matthew en Caitlynne-Jayne Lancaster van Plettenbergbaai toegeken.
"Die vereniging bedank almal wat entoesiasties deel was van vanjaar se kompetisie wat 37 jaar gelede deur Martha Avierinos begin is. Ons is baie opgewonde oor die kultuur van musiek wat floreer in George en omgewing," het Tillbrook gesê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'