MOSSELBAAI NUUS - As dit soos die gesegde lui jou beurt is, is dit klaarblyklik jou beurt.
Mosselbaaier Celeste Steyn, wat vanweë die Covid-19-virus uit die VSA gerepatrieer sou word, sou onder die bykans 200 Suid-Afrikaners gewees het wat met hulle landing op OR Tambo op Maandag, 4 Mei ure lank op die aanloopbaan gestrand en sonder heenkome was.
Maar in plaas hiervan, is sy onder die 23 Suid-Afrikaners wat blykbaar sonder klinkklare rede deur SAL in Washington DC agtergelaat is.
Steyn werk as 'n gids by Disney World en is op 18 April saam met 40 ander Suid-Afrikaners van diens vrygestel om terug te keer Suid-Afrika toe.
"SAL en die ambassade het vereistes gestel in terme van betaling van ons repatriasievlugte wat die afgelope Saterdag en Sondag plaasgevind het. Almal van ons het dit streng gehoorsaam, maar steeds is 23 Suid-Afrikaners agtergelaat, al was daar blykbaar 50 oop sitplekke op die vlug gewees. Die kommunikasie was bitter swak en party van ons het hul e-kaartjies en bevestiging slegs minute voor die vlug veronderstel was om op te styg, ontvang."
Na drie ure se gejaag op Amerikaanse hoofweë, 'n vertraagde vlug vanaf Charlotte tot in Washington, het hulle Steyn steeds weggewys.
"Ons kan seker aangaan oor baie negatiwiteit, maar die ambassadepersoneel het letterlik hulle eie huise, tyd en geld spandeer om ons te akkommodeer, 'n gebaar van ware Suid-Afrikaanse gasvryheid en omgee. Ons ambassade het ons ingeboek by die Crowne Plaza op een personeellid se persoonlike kredietkaart.
"Daar is vir ons kontant gegee vir aandete en die hotelbestuur het water verskaf."
Steyn vertel daar is gemengde gevoelens oor die vlug en sy passasiers wat wel geland het, asook hulle ervaring op OR Tambo. "Baie van my pêlle was op daai nagmerrie," vertel Steyn. Wetend dat hulle beurt om 'n soortgelyke fiasko te beleef wanneer hulle eerskomende Sondag op OR Tambo land wag, is nie juis 'n voortuitsig nie, meen Steyn.
Sy sê hulle grootste begeerte is nou om net hulle kaartjies te ontvang vir hulle vlug Saterdag.
"Die ambassade het ons die waarborg gegee dat ons 23 die eerstes op die vlug sal wees. Maar vir nou is ons veilig, heeltemal platsak, maar veilig."
Haar gedagtes beken sy, lê by almal in Mosselbaai. "Ek wil bitter graag om die Punt ry. By die geel kafee op pad terug, vis koop.
"By my Ouma Gully in Santos Haven gaan kuier. Op Tannie Joan Zietsman se stoep wyn drink en dalk by 'n kruidenierswinkel 'n pienk melkie en Mossel Bay Advertiser aanskaf."
Tot dan hou sy moed en luister na Toto se treffer, Africa.
Steyn het op Woensdag, 5 Mei via WhatsApp en per e-pos vanuit Washington, DC met die Advertiser gesels.
Van Celeste Steyn se vriende wat onder die 200 Suid-Afrikaners was wat op Maandag, 4 Mei ure lank op die aanloopbaan van die OR Tambo-lughawe in Johnnesburg gestrand was omdat daar nie voorsiening vir hulle ontvangs en verblyf na repatriasie gemaak is nie.
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'