MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaier, Alwyn Huisamen (68) word vandag op 4 September na vyf-en-vyftig dae uit die hospitaal ontslaan nadat hy in Julie positief getoets het vir Covid-19.
Alwyn is ‘n oud-Mosselbaaier en was vanaf 1986 tot 2016 verbonde aan die Mosselbaai Munisipaliteit.
Hy het op 2 Julie vir ‘n Covid-19 toets gegaan omdat hy simptome gehad het van lyfseer, moegheid, diaree en hoesbuie. Die uitslag was positief. Op 11 Julie is hy in die Life Bay View Privaat Hospitaal opgeneem weens asemnood. Hy is kort daarna op ‘n ventilator geplaas.
Familie en vriende het vir Alwyn gebid omdat sy toestand kritiek was en hulle hom nie kon besoek nie. Hy het na ‘n lang siekbed herstel en is op 25 Augustus, nadat hy negatief getoets het vir Covid-19, na die Vidamed Privaat Hospitaal oorgeplaas vir rehabilitasie.
Vandag, na vyf-en-vyftig dae word hy ontslaan om tuis by sy familie aan te sterk.
Sy familie en vriende gaan vir hom buite die hospitaal met blou ballonne wag om hom terug in die samelewing te verwelkom.
Die Huisamen familie bedank die hospitaalpersoneel, die dokters en die susters asook hospitaalbestuurder Lida Swart en Christi Strauss wat gereeld aan die familie terugvoer oor Alwyn se toestand verskaf het. “Ons is almal ewig dankbaar.”
Alwyn Huisamen terwyl hy in die hospitaal vir Covid-19 behandel is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'