MOSSELBAAI NUUS - Ten minste twee groot borge het hul voortgesette finansiële steun nou reeds vir die 2018 Mosselbaai Sport en Rekreasiefees aangekondig.
Beide die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport asook die Garden Route Casino Community Trust het tydens die luisterryke openingsfunksie van die Sportfees by die Garden Route Casino se Bravo Lounge op Donderdagaand, 21 September bevestig dat hulle reeds voorsiening vir voortgesette steun aan die fees gemaak het.
“Die doel van die Sportfees was ter aanvang om ‘n gesonder lewenswyse by inwoners aan te moedig, boonop om die plaaslike ekonomie te stimuleer deur besoekers na die dorp te lok,” het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal gesê.
“Namate die jare aangestap het, het die Sportfees tekenend geword van kreatiwiteit en kreatiewe denke. Die fees het in omvang en gewildheid toegeneem tot die 42 sportsoorte wat aan vanjaar se geleentheid deelneem.
"Tydens vanjaar se Sportfees sal heelwat nasionale en streekskampioenskappe plaasvind, talle deelnemers sal in Mosselbaai kragte teen van die bestes kom meet. Die atlete en hul ondersteuners word hartlik hier verwelkom.”
Die burgemeester het besoekers en inwoners in gelyke maat uitgenooi om ongetwyfeld die groot feesvieringe waarmee die Sportfees op 7 Oktober sal afsluit, die Kwêla Dorp van die Jaar Makietie, nie mis te loop nie.
"Hy het weer almal bedank wat Mosselbaai as Dorp van die Jaar ondersteun het.
Burgemeesterskomiteelede en gaste het die amptelike openingsfunksie terdeë geniet.
Volhoubaarheid
Die hoofdirekteur van die Wes-Kaapse departement van Kultuursake en Sport, dr Lyndon Bouah het gesê die wyse waarop die Sportfees gegroei het dui op volhoubaarheid.
Sy departement en spesifiek die minister, Anroux Marais, ondersteun die fees en is veral beïndruk met die groot aantal sportkodes vanoor die hele land wat in Mosselbaai aan die onderskeie byeenkomste en kampioenskappe kom deelneem, asook die professionele vlak van deelname en die profiel van die kompetisies.
Dit is juis deur sy departement se bemiddeling dat die Better Together Games vanjaar op Mosselbaai plaasvind.
Dit is ‘n jaarlikse sportbyeenkoms waar staatsamptenare uit die metro en die provinsie se onderskeie distrikte in onder meer sokker, krieket, vlugbal, toutrek en atletiek meeding.
Die departement het ook vroeër vanjaar geld bewillig vir die aanbou van ekstra netbalbane op Mosselbaai sodat die dorp nasionale toernooie sal kan aanbied.
Mnr ET Zungu, (streekbestuurder Metropolitan), JL Abrahams (Mosselbaai Veerpyltjies), JB Botha (Rugga Kids), Ronwen Agent (RuggaKids) en S Meyer (Mosselbaai Veerpyltjies) tydens die amptelike opening van die Mosselbaai Sportfees.
Sporttoekennings
Die Eden-distrik se atlete het besonder goed gevaar in die Weskaapse Sporttoekennings. Drie toekennings is tydens die openingsfunksie aan hierdie wenners oorhandig.
Die Wes-Kaapse Sportjoernalis 2017 is Christo Vermaak, ‘n joernalis van die Mossel Bay Advertiser se susterskoerant, die Oudtshoorn Courant, en die Wes-Kaapse Sportfotograaf, is Gerhard Jooste.
Voorts het dr Bouah voorgestel dat sy departement in 2018 die Sportfees verder ondersteun deur hul mobiele mediafasiliteit wat vir die 2010 Sokkerwêreldbeker ontwikkel is, in Mosselbaai ontplooi om die onderskeie sportbyeenkomste nóg meer toeganklik vir toeskouers te maak.
Die uitvoerende onderburgemeester, raadslid Dirk Kotzé het die onderskeie borge vir hul voortgesette steun bedank.
Mosselbaai se Sport en Rekreasiefees word onder die vaandel van die Mosselbaai munisipaliteit aangebied, maar deur elk van die deelnemende sportkodes georganiseer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'