Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Terwyl almal verlede week met Mandeladag hulleself besig gehou het met gebare van welwillendheid, het Boshoff Botha, wat kuns skep uit skroot, 'n perd van 'n heel ander kleur opgesaal.
Eintlik is sy toewyding tot Mandeladag nie gemeet aan 67 minute se opoffering nie, maar het dit sewe maande se toewyde werk gekos om 'n 5m lange standbeeld van oud-president Nelson Mandela te skep.
Wat die standbeeld, buiten sy reeds indrukwekkende grootte nog meer besonders maak, is dat Botha Madiba se geskiedenis wou uitbeeld. Dit het hy gedoen deur kleiner skrootkunswerke wat in die standbeeld ingebou is. Dit toon onder meer Madiba se nederige herkoms as beeswagter in Qunu en die hut waarin hy grootgeword het.
Daar is 'n treffende replika van sy tronksel op Robbeneiland en dan 'n afbeelding van die parlementsgebou wat triomfantlik teen die standbeeld se bors vertoon. Kunstig uit skroot gevorm is die koppe van die groot vyf ook in die standbeeld ingeweef.
Die standbeeld kan besigtig word by die Mosselbaaistasie in die hawegebied.
Kyk 'n video hieronder.
Nog baie drome
Botha en sy gesin het bykans twee jaar gelede op Mosselbaai hervestig. Voorheen was hy 'n varkboer, maar hy doen glo jare reeds sweiswerk. Kort voor sy aankoms in Mosselbaai, het hy begin eksperimenteer met kuns uit skroot.
Een van sy eerste groot standbeelde, 'n renoster het in die onlangse verlede die Mossel Bay Advertiser gehaal en tot op hede, het heelwat van sy ander skrootstandbeelde ook goeie huise gekry.
Botha vertel dat hy maar swaar afskeid neem van 'n stuk en bly is dat sommige in Mosselbaai en die nabye omgewing is, waar hy hulle kan "gaan besoek". 'n Olifant wat hy gemaak het, pronk in Wellington op 'n wynplaas en, sê hy met trots, dié kan oor die vlakte heen van ver gesien word. Nog een van sy skeppings, 'n Dias-karveel, versier 'n huis in 'n spogbuurt in Kaapstad.
Ingerig by die ou Mosselbaaistasie in die hawegebied, bedryf Botha sy ateljee. "Ek doen baie navorsing oor die beelde wat ek wil skep." Hy het 'n oog vir detail en sê dat hy graag meer sulke elemente in sy kuns sou wou inbring, maar die tyd ontbreek aangesien hy ook ander ysters in die vuur het met sy bedrywighede by die stasie.
"Dit sal lekker wees as die standbeeld hier in Mosselbaai kan bly. Wanneer mense daarna kyk, wil ek hê hulle moet 'n opsomming van Madiba se lewe kry."
Botha sê hy droom van 'n plek vol skrootstandbeelde in Mosselbaai waar dorpenaars en besoekers kan kom kuier.
'n Reuestaak van sewe maande was dit om hierdie standbeeld van oud-president Nelson Mandela te skep. Foto's: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'