MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai Kansa Relay For Life (RFL) het vandeesweek die laaste van hulle 10de bestaansjaarvieringe gehou, tydens hulle prysuitdeling en borge-aand.
Die geselligheid is aangebied by The Coffee Club.
Tydens die prysuitdeling, het die Hillies-span, wat sedert die begin van die Mosselbaai Kansa RFL in 2008 jaarliks deelneem, met die louere weggestap vir die meeste geld ingesamel. Die span het R16 000 ingesamel.
Onder luide applous, is daar in 'n goeie gees deur ander spanne reeds aanspraak gemaak om die trofee volgende jaar in te palm.
Minette van Zyl, streekskoördineerder van Kansa Suid-Kaap/Karoo, het tydens haar spreekbeurt uitgewei oor Kansa se ses groot jaarlikse fondsinsamelings, waarvan die RFL die grootste is. Sy het aangedui hoe die fondse aangewend word in Kansa se dienslewering. Van Zyl het ook gesê dat die streek 'n buitengewoon wye diensleweringsarea het, wat dorpe in ander streke ook insluit. Dit sluit in Willowmore (Oos-Kaap), Victoria-Wes (Noord-Kaap) en Laingsburg (Boland).
Freddie Faul, uittredende voorsitter van die Mosselbaai Kansa RFL, wat die geleentheid in Mosselbaai kom vestig het, is bedank vir sy volgehoue toewyding. Vyf van die bestuurslede het ook vanjaar uitgetree. Dit sluit in Denise Lloyd wat naas Faul, die langsdienende bestuurslid is en ook elke jaar haar plek vol gestaan het as programleier tydens die RFL. Die jongstes onder diegene wat bedank is vir hulle bydrae vanjaar is Dané Prins en Ethan-John Carstens, beide leerders van Curro Mosselbaai. Dané, 'n kletsrymer het 'n spesiale lied geskryf vir die RFL en Ethan-John het noodhulp en basiese gesondheidsdienste verskaf.
Connie Petersen, ook 'n lid van die RFL-komitee ontvang die trofee vir die meeste geld ingesamel names die Hillies-span.
Die Mosselbaai Kansa Relay for Life-span tydens hulle prysuitdeling vandeesweek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'