MOSSELBAAI NUUS - ‘n Raadslid van die Mosselbaai Munisipaliteit, Len Rauch (69) is gister oorlede.
Die oorsaak van Rauch se dood is nog nie aan die Mossel Bay Advertiser bekend nie.
Die munisipaliteit het in ‘n verklaring gesê Rauch het 'n onuitwisbare merk as lid van die Mosselbaai munisipale raad gemaak en het sy plek volgestaan as lid van die uitvoerende komitees op finansiële dienste, tegniese dienste, beplanning en geïntegreerde dienste, asook op die opleidingskomitee en die keurkomitee.
Hy was ‘n medestigter van een van die sterks-groeiende buurtwagte in Midbrak en baie betrokke by die Belastingbetalersvereniging.
Uitvoerende Burgemeester, Raadsheer Harry Levendal sê Rauch het as proporsionele verteenwoordiger vir die Demokratiese Alliansie (DA) in Wyk 7 diep spore getrap in veral die landelike gemeenskappe en het die wyksraadslid, Raadsheer Barnie Groenewald se hand in die wyk gesterk. Voordat sy gesin in die Mosselbaai-omgewing gevestig het, het Rauch eweneens as 'n leiersfiguur in die mynbedryf baie gedoen, ook met opheffingswerk.
Sy kollegas en vriende by Mosselbaai-munisipaliteit sê hulle sal Rauch altyd onthou vir sy gevatte sê-goed, sy wye lewenservaring waaruit hulle kon put, vir sy werklike omgee vir sy medemens en vir die wyse waarop hy ander se lewens aangeraak het sonder om dit aan die grootklok te hang. “Hy word onthou as ‘n baie deeglike persoon wat ondanks werskdruk altyd tyd vir ‘n grappie gehad het. Hy kon ondanks emosie, ruim en groothartig met sy medemens omgaan,” sê Levendal. Rauch laat, benewens sy eggenote Jo, ook drie dogters en twee kleinkinders na.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'