MOSSELBAAI NUUS - Binne die Grondwet van Suid-Afrika in Artikel 187(1) word gestipuleer dat die Kommissie vir Geslagsgelykheid (KGG) respek vir geslaggelykheid, ontwikkeling, beskerming en verwesenliking van geslagsgelykheid bevorder. Hierdie kommissie het Mosselbaai vroeg in Maart besoek vir 'n werksessie wat oor twee dae aangebied is.
Die KGG word gesteun deur Artikel 187(2) wat 'n wetlike mandaat gee vir monitering, ondersoek en opvoeding rakende geslagsake.
Gedurende die werksessie, is twee fokusgroepe blootgestel aan die dienste van die KGG. KGG-opleidingsbeampte, Leonard Macakathi het juis gefokus op 'n inleiding tot die dienste. Hierdie program sal opgevolg word met 'n drie dag intensiewe opleidingsprogram vir alle organisasies, instansies, asook die Mosselbaai-munisipaliteit wat verantwoordelik is vir geslaggelykheid en die hoofstroom van geslagsake.
Die Mosselbaai-munisipaliteit is reeds sedert 2011 betrokke is by die Gender Links-program wat fokus op evaluering van munisipaliteite op grond van die SAOG-protokol op geslagsake en ontwikkeling. Mosselbaai het sedert 2012 verskeie toekennings ontvang in deelname tydens Gender Links se internasionale beraad en is tans saam met Capricon-distriksmunisipaliteit die enigstes wat platinum status verwerf het vir hoofstroom van geslagsake.
Persone wat graag wil deel word van die Mosselbaai-munisipaliteit se forum wat fokus op die hoofstroom van geslagsake, kan inskakel by die MLAC/WPP (Mossel Bay Local Aids Council/Women Power and Purpose Forum) wat een maal 'n kwartaal byeenkom. Daar is 'n gesamentlike program wat opgestel is wat die jaar se projekte en programme integreer sodat die dorp in 'n eenheid kan saamwerk.
Die intensie is om gedurende November 'n werksessie oor drie dae aan te bied waar daar gekyk word na die GOP, beleid asook opleiding in die gemeenskap wat fokus op aspekte soos geslagsdiskriminasie, seksuele teistering, skending van geslagsregte en diskriminasie as gevolg van seksuele oriëntasie.
Enige belangstellendes kan hul besonderhede stuur aan Alma Kritzinger (munisipale beampte verantwoordelik vir geslagsake, gestremdes, bejaardes en MIV/VIGS binne die departmente gemeenskapsontwikkeling), e-pos - akritzinger@mosselbay.gov.za of skakel (044 606 5251) of stuur 'n WhatsApp na 079 691 7708.
Lede van beskermingsdienste wat 'n werksessie oor geslagsgelykheid in Mosselbaai bygewoon het. Die werksessie is aangebied deur die Kommissie vir Geslagsgelykheid (KGG).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'