MOSSELBAAI NUUS - Drie besighede in Mosselbaai is die afgelope naweek deur diewe geteiken terwyl die eienaar van 'n tuindienste-onderneming 'n noue ontkoming gehad het.
In die eerste voorval het vyf gewapende mans die Mosselbaai Bakkery in Voorbaai op Sondag, 24 September beroof.
Volgens die eienaar van die bakkery, Danie Hoffman, het dit die rowers slegs ses minute geneem om die misdaad te pleeg.
"Op die kringtelevisiemateriaal kan 'n mens duidelik sien dat hulle vier keer by die gebou verbygery het voor die rooftog," het Hoffman by navraag gesê.
Die rowers was gewapen met twee pistole, 'n rewolwer en 'n mes, aldus Hoffman. Hulle het omstreeks 13:00 op die sewe werknemers by die bakkery toegeslaan.
"Op die videomateriaal kan 'n mens sien hoe hulle die werknemers gebied om op die vloer te lê, hulle vasbind en hulle dan skop en slaan.
Hulle het my voorman met 'n vuurwapen teen die kop gedreig om die strong room oop te sluit."
Volgens polisie, was die verdagtes gemasker en het die voertuig waarin hulle gery het 'n wit Toyota-sedan, geen nommerplate gehad nie.
Die roofverdagtes het met 'n groot som geld van die toneel gevlug en is steeds op vrye voet. Verskeie leidrade word tans deur die Da Gamaskop-polisie opgevolg.
Oudhedewinkel
In die tweede voorval het 'n verdagte by die oudhedewinkel in Marshstraat, Déjà Vu Vintage House op Dinsdagoggend, 26 September om ongeveer 02:00 ingebreek.
In hierdie voorval blyk dit asof die inbreker 'n glasskuifdeur stukkend gekap het om toegang tot die perseel te verky.
Die winkel se alarmstelsel is geaktiveer waarna die verdagte op die vlug geslaan het. Inwoners van 'n nabygeleë woonstelgebou het glo die gekap gehoor en het die vlugtende verdagte in Marshstraat agternagesit. Hulle het ook danksy hulle oplettendheid, inligting aan die polisie verskaf wat in die ondersoek kan gebruik word.
Die voorval word deur die Mosselbaai-polisiestasie ondersoek.
Gastehuis en baksteengooiery
'n Gastehuis-eienaar van Mosselbaai het 'n saak van diefstal by die Mosselbaai-polisiestasie aanhangig gemaak nadat daar vermoedelik kos en 'n televisie gedurende dieselfde tydperk as die ander misdade by die gastehuis gesteel is.
Die polisie ondersoek die voorval, maar die gastehuiseienaar wou nie oor die saak uitbrei nie.
In 'n afsonderlike voorval het die eienaar van 'n tuindienste-onderneming, Ricardo Dippenaar 'n noue ontkoming gehad nadat hy werknemers in JCC-kamp op Sondag, 24 September afgelaai het.
Volgens Dippenaar het hy om ongeveer 19:45 uit die gebied gery, toe 'n persoon 'n baksteen deur sy venster gegooi het. Die baksteen het op Dippenaar se skouer beland en kon hy daarin slaag om te ontvlug.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS EN LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALISTE
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'