Derduisende mense van regoor die land en Namibië het aan die kykNet-kompetisie deelgeneem deur per SMS vir hul voorkeurdorp te stem. Juis dít maak Mosselbaai se oorwinning des te meer merkwaardig.
Mosselbaaiers wat by die ATKV Hartenbos se Walvissaal op die aankondiging gewag het, het heelhartig hul dank uitgespreek teenoor almal, ook vakansiegangers en ander Weskapenaars, wat vir die dorp gestem het.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, het almal wat aan die kompetisie deelgeneem het, van harte bedank en gesê inwoners sal ingelig bly oor die aanwending van die prysgeld-meevallertjie wat die kompetisie meegebring het.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het gesê die feit dat die dorp met die titel kan spog, is die resultaat van samewerking tussen heelparty organisasies en inwoners. Hy het sy dank uitgespreek teenoor elkeen wat vir die dorp gestem het.
"Mosselbaai is voorwaar uniek. Dit bied ongeëwenaarde munisipale dienste, die beste klimaat in die land, 122km toeganklike kuslyn, toeriste-aantreklikhede sonder weerga. Dit maak ongetwyfeld van Mosselbaai die voorkeurkeuse vir investering, ontwikkeling, selfs aftrede. Die dorp se unieke kenmerke bied iets vir almal."
Teenstanders
Aanvanklik was Stilbaai en Gansbaai waardige opponente in die stryd om as die Wes-Kaap se finalis benoem te word. Mosselbaai het daarna agt gedugte teenstanders se hand in die as geslaan. Vandebijlpark, Tzaneen, Mbombela/Nelspruit, Hoopstad, Barclay-Oos, Margate, Vanzylsrus en Gobabis in Namibië het uiteindelik die spit teen Mosselbaai afgebyt.
Mosselbaai was een van net drie dorpe wat kon hoop om as wenner uit die 2017-kompetisie te tree. Mbombela/Nelspruit en Barclay-Oos was ook in die laaste pylvak, maar is Mosselbaai as algehele wenner gekroon.
Besondere voordele is opgesluit in die titel en die bemarkingswaarde wat die dit meebring, met talle binne- en buitelandse besoekers en toeriste wat Mosselbaai sal wil besoek om self te ervaar wat die dorp so uniek maak dat dit vir 'n tweede keer met die gesogte titel kan spog.
Boonop, sê die Mosselbaai-munisipaliteit se direkteur van korporatiewe dienste, Edward Jantjies, gaan kykNET 'n groot makietie, waarskynlik in September, borg waartydens die toekenning behoorlik gevier sal word.
Die voorsitter van Mosselbaai se besigheidskamer, Fanus Truter, sê die bemarkingswaarde van die toekenning strek veel verder as die R1 miljoen se lugtyd wat deur kykNET gebruik sal word om Mosselbaai te bevorder.
"Die titel as Dorp van die Jaar gaan deure vir Mosselbaai oopmaak. Beleggers en ontwikkelaars sal kennis neem van die geleenthede wat in die dorp se goeie munisipale bestuur opgesluit lê, toeriste sal wil kom kyk wat die dorp van die ander deelnemers onderskei het, en motoriste sal hopelik in die toekoms van die N2 afdraai wanneer hulle in die Tuinroete reis en van die dorp se uitstekenede fasiliteite, soos uitnemende restaurante en akkommodasie-instellings gebruik maak.
Uitdaging
"Die uitdaging is nou vir álle Mosselbaaiers om die ekstra myl te loop wat hierdie erkenning van ons verg - elkeen sal 'n bietjie vriendeliker teenoor ander moet wees, elkeen sal 'n stukkie rommel moet optel, elkeen sal die waardes wat die dorp uniek maak, moet uitleef.
Ek vra dat Mosselbaaiers hul harte en hande sal oopmaak teenoor minderbevoorregtes en die Mossel Bay Advertiser se Oliver Twist-gemeenskapsprojek sal ondersteun.
‘Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus’