Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Op pad na KwaNonqaba, waar 'n kontrakteur vandeesweek met 'n groep van 10 werkers begin het om die opgehoopte vullis uit klowe in die woongebied op te ruim en te verwyder, skok die toneel van talle geel vullissakke wat ingeryg langs Louis Fourieweg voor die plaaslike landdroshof staan.
In samewerking met die plaaslike buurtwag en die wykskomitee vir die area het werkers etlike 100 meter voor die landdroshof ontbos omdat klagtes ontvang is dat boosdoeners daarin skuil en voetgangers teiken wat daarlangs stap.
Volgens van die werkers met wie die Mossel Bay Advertiser gesels het, is die meer as 20 sakke vol vullis in die area net voor die hofgebou opgetel.
Die sakke is gevul met onder meer koeldrankbottels en blikkies, polistereenhouers vir wegneemetes, plastieksakke, selfs klere en ou skoene.
"Dis darem sleg, mevrou, dat ons ander mense se vuilgoed so moet optel," sê een van die werkers wat steeds met 'n geel vullissak tussen die bosse rondloop.
Hy sê nie al die vullis kom tussen die bosse uit nie.
'n Vrou wat daar naby verbyloop, skud haar kop.
"Ons het net verlede week ook hier skoongemaak."
Kyk 'n video hieronder:
Een halwe dag se werk het meer as 20 sakke vullis in die strook net voor die landdroshof opgelewer.
KwaNonqaba
Die Advertiser besoek die area in KwaNonqaba waar 'n kontrakteur vullis verwyder uit 'n klofie wat die plakkersbuurt skei van die geboude hok waarin inwoners veronderstel is om hul swart vullissakke te gooi sodat die munisipaliteit dit kan verwyder.
Die kontrakteur, mnr Johnson Mpumela, en sy span van 10 werkers werk reeds sedert Maandag onverpoos om vullis uit die area weg te ry. Hy sê die mense wat vullis so stort, behoort beboet te word.
In die informele woongebied sê van die inwoners hulle ontvang nie swart vullissakke nie.
Vroue trotseer die steiltes van die klowe om sakke vol vullis op te ruim.
"Ek weet nie wie is die raadslid nie, waar moet ek swart vullissakke kry?" vra 'n man wat verkies om anoniem te bly. Hy sê hy stuur sy kinders om die vullis weg te gooi.
"Die pad oor die brug is vrot, my meisiekind kan nie alleen daar loop nie. Sy gooi dit by die kloof af, dis nader."
Die vroue is trots op die werk wat hulle doen om ander mense se rommel op te ruim.
Onder die brug werk 'n paar vroue. Hulle stap die steilte op en af met swart vullissakke, sommige met die sakke op hul kop, ander dra swaar aan die sakke wat by 'n bakkie bymekaargemaak word.
"Ons gaan nog JCC-kamp toe next, en by Queen Street. Die munisipaliteit moet die mense wat so mors vasvat. Ons kinders kan nie so lewe nie," sê een van die vroue.
In Marshstraat, net voor die munisipale gebou gooi 'n blondekopman in 'n duur Duitse motor ongesteurd sy kospapiere by die venster uit. Die motor het 'n Mosselbaai-registrasienommer.
Teen vroegmiddag het die kontrakteur al etlike ritte na die KwaNonqaba-oorlaaistasie gemaak om van die vullis ontslae te raak.
Lees 'n vorige artikel: Rommel verswelg woongebied
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'