MOSSELBAAI NUUS - Goeie samewerking tussen die Da Gamaskop-polisie en die gemeenskap het daartoe gelei dat 'n verdagte betrokke by 'n moordsaak in Hankey, Oos-Kaap suksesvol gearresteer en aan die betrokke owerhede oorhandig is.
Volgens inligting, is het die verdagte gedurende verlede naweek 'n persoon in Hankey na bewering met 'n mes doodgesteek en na die voorval na Mosselbaai gevlug. Konstabel Ludumo Dyasi, die sektor 1-bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiestasie het inligting vanuit die gemeenskap ontvang en opgevolg.
Hierna is die verdagte Maandag, 10 September omstreeks 13:00 in die JCC-woongebied opgespoor, gearresteer en na die aanhoudingselle by die Da Gamaskop-polisiestasie geneem.
Hierna is kontak gemaak met die SAPD op Hankey, wat bevestig het dat die verdagte gesoek word in verband met die moordsaak.
Die verdagte is Dinsdag, 11 September aan die polisie op Hankey oorhandig.
Die stasiebevelvoerder, kol Mark Hartzenberg het kst Dyasi geloof vir sy goeie werk en die gemeenskap vir hulle uitmuntende samewerking bedank.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'