MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie ondersoek die moord van 'n 19-jarige man wat op Nuwejaarsdag, 1 Januarie plaasgevind het.
Volgens inligting verskaf deur die polisie het 'n 23-jarige verdagte en die oorledene, Asive Zweni in JCC-kamp in 'n woordewisseling betrokke geraak aangaande 'n gesteelde selfoon.
Zweni het na bewering die verdagte daarvan beskuldig dat dié se broer sy selfoon gesteel het. Hierop het die verdagte 'n mes uitgepluk, Zweni daarmee begin jaag en hom 'n steekwond aan die rug toegedien.
Die eienaar van 'n nabygeleë kuierplek het die beseerde Zweni na 'n plaaslike hospitaal geneem waar hy later aan sy wond oorlede is.
Die saak word ondersoek deur sers A Binneman van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'