MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay Advertiser het vrae van die publiek ontvang oor rylopers en voetgangers op die N2 deurpad tussen Danabaai en George.
Die Advertiser het Reinet Sarikakis, provinsiale verkeershoof op Mosselbaai, gevra wat die verskil tussen 'n nasionale pad en deurpad is. In Mosselbaai is die gedeelte van die N2 tussen die Danabaai afrit en George 'n deurpad en nie 'n nasionale pad nie.
'n Deurpad word gekenmerk as 'n pad wat geen stoppe, robotte of voetoorgange het nie en die spoedgrens is konstant 120km/h. Hier is afritte en opritte die enigste manier om 'n deurpad te verlaat.
Die volgende word nie op deurpaaie toegelaat nie; Motorfietse met 'n enjinkapasiteit kleiner as 50cc Voertuie wat deur diere aangedryf word Handseine – behalwe in noodgevalle Trekkers Elektries aangedrewe motorfietse Vier- en driewiel-motorfietse Voertuie kleiner as 230kg vir gestremde persone Fietse Voetgangers – tensy hulle moet stilhou vir redes buite hulle beheer Jy mag slegs jou voertuig op ‘n deurpad stilhou as: jy dit in opdrag van ‘n verkeersbeampte of padteken doen jy ‘n noodsituasie buite jou beheer ondervind.
Skakel jou noodligte aan. Uitsonderings op die bogenoemde reëls geld nie vir instandhouding- of konstruksie werkers, beamptes of noodgroepe wanneer hulle hul pligte uitvoer nie. Volgens Sarikakis word motoriste wat stilhou op die deurpad beboet met R500. Geen werker mag op of afgelaai word op 'n deurpad.
Voetgangers en rylopers word ook verbied op 'n deurpad. 'n Nasionale pad vanaf die N1 tot die N21 kan wel stoptekens, robotte, voetoorgange, rusplekke ens bevat. Nasionale paaie kan ook deur stede en dorpe gaan.Geen voetgangers word op 'n deurpad toegelaat en om die pad oor te steek is baie gevaarlik. Foto: Jaco Rossouw
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’