MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, het tydens gister se maandelikse raadsvergadering inwoners gemaan om water uiters spaarsaam te gebruik.
Die burgemeester het op die dalende watervlakke van die drie damme wat Mosselbaai van water voorsien gewys en gesê hoewel watervlakke vir die Mosselbaai munisipale area nog nie kritiek laag is nie, rooi gevaarligte tóg flikker.
"Die ganse Wes-Kaap gaan onder 'n knellende droogte gebuk. Stad Kaapstad het reeds vanaf 1 Julie vlak 4B waterbeperkings geïmplementeer. Buurdorpe in die Eden-distrik beleef watervoorsieningskrisisse. Knysna het minder as 20 dae se drinkwatervoorraad beskikbaar. George het reeds waterbeperkings ingestel nadat die damvlak van die Tuinroetedam tot onder 60% gedaal het.
"Ongelukkig lyk reënvalvoorspellings vir die res van die seisoen nie goed nie. Dus vra ek inwoners se samewerking om water nou reeds met die grootste omsigtigheid te gebruik. Onthou, die Desembervakansie, met die gewone toename in waterverbruik weens hoër besoekergetalle, lê nog voor."
Raadsheer Levendal het gesê dat die watervoorraad van die Wolwedansdam, die grootste dam wat Mosselbaai voorsien, met gemiddeld 4% per maand daal. Wisselende verbruik beïnvloed hierdie syfer en in die Desembervakansie kan dié daling tot soveel as 10% per maand wees.
Damvlakke
"Die Wolwedans se damvlak is hierdie week slegs 75.67%, vergeleke die 78% in Junie. Om die erns van hierdie situasie te besef, moet die watervlak gemeet word teen die vorige damvlakgemiddeldes van die ooreenstemmende tye in vorige jare, waar die watervlak in 2015 gemiddeld op 100.5%, en in 2016 op 95% gestaan het.
"Wanneer vol, hou die Wolwedansdam 24.63 miljoen kiloliter, vandag beskik die dam egter oor slegs 18 635 miljoen kiloliter. Saam met die heelwat kleiner Ernst Robertsondam en die Klipheuweldam, hou die drie damme wat Mosselbaai van water voorsien saam 29.49 megaliter. Vandeesweek beskik die drie damme gesamentlik oor 21.198 megaliter.
"Benewens die damme, voorsien twee boorgate Mosselbaai ook van gemiddeld 1.4 megaliter vars drinkwater per dag." Hierbenewens beskik die dorp oor die ontsoutingsaanleg en die omgekeerde osmose-aanleg. Weens die koste daaraan verbonde word hierdie tegnologie nie lukraak aangewend nie.
Die Wolwedans se damvlak was teen einde Junie 78%, maar het sedertdien verlaag tot 75.67%. Om die erns van die situasie te besef, moet hierdie syfer gemeet word teen die damvlakgemiddeldes van die ooreenstemmende tye in vorige jare, waar die watervlak in 2015 gemiddeld op 100.5%, en in 2016 op 95% gestaan het, sê burgemeester Levendal. Grafika: Nickey le Roux
Tariefverhoging
"Sodra damvlakke onder 50% daal, verhoog die watertariewe. Verbruikers sal reeds vanaf die einde van hierdie maand 6% meer vir water betaal weens die jaarlikse tariefverhoging.
"Tans betaal huisbewoners R8.36 per kiloliter vir die eerste 20 kiloliter water. Wanneer damvlakke tot onder die 50% daal, verhoog hierdie tarief tot R12.56 vir die eerste 20 kiloliter. Sou damvlakke tot onder 30% daal, betaal huisbewoners R16.74 vir die eerste 20 kiloliter. Hierdie tariewe verhoog namate inwoners meer water gebruik," het raadsheer Levendal benadruk.
Hulpbehoewendes
In Mosselbaai ontvang inwoners steeds die eerste ses kiloliter vars water gratis. Wanneer damvlakke egter sodanig daal dat die area tot 'n droogtegebied verklaar word, behou die munisipaliteit die reg voor om die gratis watervoorsiening te verminder of te staak.
By 'n vorige raadsvergadering het die burgemeester gesê dat Mosselbaai die verklaring van voorneme onderteken het van die plaaslike regeringsverklaring oor watersekuriteit vir die Wes-Kaap vir 2020 en daarna.
"Die bevordering van waterbewaring en voorsieningsbestuursprosesse, insluitend die aanvaarding van waterbesparende stedelike ontwerp beplanningsbeginsels om die vraag per kapita op ons waterhulpbronne permanent te verminder, vorm deel hiervan. So ook die munisipaliteit se inisiatiewe om eie infrastruktuur in totaliteit na te gaan om waterlekke te voorkom.
Infrastruktuur
"Die direkteur van tegniese dienste, mnr Dick Naidoo, se afdeling het waterverliese deur munisipale infrastruktuur as 'n strategiese risiko geïdentifiseer en werk reeds aan uitvoeringsplanne, soos die waterbesparingsbestuursplan en die watervoorsieningsmeestersplan, wat met die stedelike ruimtelike ontwikkelingsraamwerk geïntegreer is.
"Ongeveer 3 000 verouderde watermeters sal jaarliks vervang word. Die telemetrie-stelsels is opgradeer om die uitlaatmeters by die suiweringsaanlegte en by reservoirs te monitor. Ongeveer twee kilometer ou groot waterpypleidings sal jaarliks vervang word.
"Die drukbeheerkleppe van die ganse waternetwerk word opgegradeer om te verhoed dat dit onder die hoë druk meegee.
"Hierbenewens word lekkasies by behoeftige huishoudings deurlopend herstel en word grootmaatverbruikers se watermeters stelselmatig met elektroniese meters vervang.
Landelike gebiede
"Ook die landbouers in ons omgewing beleef baie moeilike omstandighede met riviere wat opgedroog het en veevoer en ander hulp wat dringend benodig word.
"Ons kan nie nalaat om in herinnering te roep die verswelgende brande wat ons gebied in Desember 2016, en Knysna net verlede maand geteister het nie. Dis ysingswekkend om te dink aan die gevolge van wegholbrande op 'n gemeenskap waar daar nie water is nie. Almal het 'n verantwoordelikheid om water te spaar en seker te maak dat ander, soos die bure, ook water spaar," aldus raadsheer Levendal.
ARTICLE: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER JOURNALIST
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'