MOSSELBAAI NUUS - Tydens die jaarlikse strategiese beplanningbyeenkoms van die munisipale uitvoerende bestuur is die toenemende probleem van heemloses in die groter Mosselbaai deeglik bespreek.
Verskeie faktore lei tot probleme, met veral diegene wat verkies om nie van nagskuilings en ander programme, gemik om hulle van hulp te wees, gebruik te maak nie.
Dwelmafhanklikheid en dwelmhandel is deels verantwoordelik vir hierdie sosiale verval.
Mosselbaai-munisipaliteit het reeds grond geïdentifiseer en onderhandel tans oor die vestiging van die dwelmrehabilitasiesentrum vir die Tuinroete.
Die heemlose-, dwelmhandel- en dwelmmisbruikkwessie is nie 'n munisipale mandaat nie. Verskeie provinsiale en nasionale regerings-departemente is spesifiek getaak en befonds om hierdie sosiale probleem die hoof te bied.
The Haven-nagskuiling, bewillig en ingeruim deur die Mosselbaai-munisipaliteit, huisves tans sowat 84 heemloses, maar na raming is daar 40 persone wat die straatlewe verkies.
Hierdie groep is tydens die aanvanklike fases van die Covid-19-inperking deur munisipale bewilliging, wat die befondsing van elektrisiteit en kosdonasies insluit, in plaaslike akkommodasiefasiliteite gehuisves.
Gemeenskapsveiligheid is 'n belangrike fokusarea vir die munisipaliteit, sodat die inwoners in hul eie dorp veilig kan voel, maar ook omdat veiligheid 'n kernelement vir ekonomiese groei en investering is.
Werkloosheid het merkbaar toegeneem en ekonome is dit eens dat lewensomstandighede heelwat sal versleg voor dit verbeter.
Dit mag 'n groter behoefte aan gemeenskapsondersteuning laat ontstaan vir diegene wat weens Covid-19 'n bestaansinkomste het en waarskynlik hul blyplekke mag verloor.
Geen aalmoese
Mosselbaai-munisipaliteit versoek inwoners, spesifiek ter wille van gemeenskapsveiligheid, om nié kontant of eetgoed aan diegene wat om aalmoese aanklop, uit te deel nie.
Inwoners word versoek om liefs 'n bydrae te maak aan instansies wat op georganiseerde wyse omsien na behoeftiges.
Daar is bewyse dat sommige sogenaamde heemloses verkies om op straat te leef omdat hulle hul nie ondergeskik wil stel aan die voorwaardes van die nagskuiling nie. Sommige weier om hulle aan lukrake, verpligte dwelmtoetsing te onderwerp ter wille van 'n behoorlike bed, 'n warm stort en 'n gebalanseerde maaltyd.
Die heemlose probleem groei weens die dorp se goeie reputasie en ondanks die koronavirus, is die seisoenale toename van heemloses opmerklik.
Die munisipaliteit beplan om binnekort alle betrokke rolspelers te betrek by beplanning om die probleem die hoof te bied.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'