Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die St Blaize-modelvliegklub het Saterdag, 5 Oktober 'n fly in by hul klub gehou as deel van die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees en plaaslike inwoners sowel as besoekers het die dag en die buitelug terdeë geniet. Sowat 17 inskrywings waarvan agt plaaslik was en meer as 30 vliegtuie en helikopters het aan die byeenkoms deelgeneem.
Radiobeheerde modelvlieg-entoesiaste van George, Hermanus, Oudtshoorn en Wynlande, het saam met die plaaslike manne hul vernuf kom ten toon stel en vriendskapsbande gesmee met die plaaslike lede.
Sommer vroegoggend het die gesing van die nitro- en elektries-aangedrewe vliegtuie en helikopters die skare vermaak met uitstekende vliegkuns.
Die manne het 'n kollandingkompetsie gehou en ten spyte van die wind wat begin pla het, het hulle vernuf bewys dat hierdie sportsoort jou koördinasie en omgekeerde denke tot die uiterste beproef. Die eerste plek vir die kollanding het gegaan aan Jaco Botha van Mosselbaai, tweede was André le Roux van Oudtshoorn en Nico Erasmus van Mosselbaai was derde. Om die radiokontrole effektief te beheer terwyl die vliegtuig na en van jou af vlieg moet jy jouself in die vliegtuig plaas. Een verkeerde inset op die kontroles kan die sport in 'n stokperdjie verander waar jy aande in jou motorhuis vertoef om 'n stukkende vliegtuig te herstel. Radiobeheerde modelvliegtuigsport is geskik vir oud en jonk. Alhoewel dit 'n duur sport kan wees, bied dit groot waarde as 'n tydverdryf.
Kyk 'n video hieronder:
Die St Blaize-modelvliegklub is in 1996 gestig en het tans 22 lede. Alle vorms van modelvlieg word hier beoefen byvoorbeeld sport, fun fly, skaal, helikopters, kunsvlieg en sweeftuie. Hul gronde is geleë reg noord van die Mosselbaai lughawe en beskik oor 'n 106m geteerde aanloopbaan. Beplanning is om nog 'n aanloopbaan in die nabye toekoms te bou. Die vriendskappe wat die naweek gemaak is, was egter die belangrikste.
"Die sport kan gevaarlik wees en veiligheid kom altyd eerste," het voorsitter van die klub, Nic Erasmus met sy openingstoespraak gesê. Hy nooi enige belangstellendes uit om 'n draai te kom maak. Vir meer inliting, kontak Nic (083 276 7047).
Jaco Botha (links) ontvang hier sy prys van Kobus Swanepoel nadat hy die eerste plek in die kollandingkompetisie verower het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'