MOSSELBAAI NUUS - Misdaad in Danabaai neem beduidend toe. Alle gerapporteerde misdade het die afgelope maand 'n toename getoon vergeleke dieselfde tyd verlede jaar, met sowat 14 gerapporteerde voorvalle in die bestek van 14 dae.
Die KwaNonqaba-polisie se woordvoerder, sers Kapp sê by navraag dat veral inbrake by huise en diefstal vanuit voertuie in die omgewing merkbaar toegeneem het.
Tydens 'n onlangse openbare vergadering in Danabaai na afloop van die gewelddadige onluste, het die gemeenskap hulle sterk uitgespreek ook oor die toename in misdadigheid in dié woonbuurt.
Baie sterk argumente is aangevoer vir beter polisiefasiliteite. Gegewe die omvang van die area en die bevolkingsdigtheid wat die KwaNonqaba-polisiestasie moet bedien, het die gemeenskap aangedring dat 'n nuwe, behoorlike polisiestasie as 'n prioriteit hanteer en aangespreek moet word. Daarbenewens is die beskikbaarheid van voertuie om sake te hanteer, ook gelug.
Werksomstandighede by die KwaNonqaba-polisiestasie is afbrekend vir dienslewering en die Danabaai-gemeenskap het aangedring dat dringend werk gemaak moet word van 'n nuwe polisiestasie.
Vergeleke omstandighede 'n jaar gelede, het heelwat meer Danabaaiers die afgelope maand onder misdadigers deurgeloop. Verskeie inwoners meen egter dat die verdagtes waarskynlik van Danabaai self is.
Veral sekere strate
"Volgens geregisteerde sake blyk dit dat inbrake by huise veral in die 'P' en 'E'-strate voorkom, terwyl diefstal vanuit motorvoertuie veral in die 'A' en 'E'-strate toeneem," aldus sers Kapp.
Straatname in Danabaai het dikwels 'n A, E of P voorvoegsel wat verwys na die tipe fynbos of plant, soos byvoorbeeld 'n protea, waarna die res van die naam verwys.
"Inwoners word versoek om alle voorvalle van misdaad wel by die polisie aan te meld. Selfs al is net probeer om in te breek, meld dit aan. Dit is onontbeerlik vir behoorlike rekordhouding en statistieke," versoek sers Kapp. Dit gebeur ook dat gevalle van opsetlike beskadiging van eiendom of betreding nie noodwendig as 'n poging tot inbraak gerapporteer word nie, veral nie as die booswig verwilder is voordat 'n inbraak plaasgevind het nie.
Die voorsitter van die Danabaai-buurtwag, Otto Ploog moedig inwoners sterk aan om by die buurtwag in te skakel.
"Nie alle buurtwaglede is noodwendig betrokke by patrollies of aktiewe optrede nie. Elke buurtwaglid is egter waardevolle waarnemers wat die aktiewe lede kan help met inligting oor verdagte optrede en voorvalle wat mag voorkom," sê Ploog. Hoe meer buurtwaglede vir patrollies beskikbaar is, hoe minder is die las op diegene wat wel die area patrolleer.
Ploog nooi inwoners om by die buurtwag aan te sluit deur 079 414 0481 te kontak.
'Ons bring jou die nuutste Danabaai, Tuinroete nuus'