Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers, het op Dinsdag, 18 Januarie die nasionale minister, Mmamoloko Kubayi en haar adjunk, Pamela Tshwete tydens 'n besoek aan Mosselbaai vergesel.
Die besoek het onder meer 'n oorsig van behuisingsontwikkelings ingesluit.
Die delegasie het ook besoek afgelê by die eienaars van die huise in Wolwedans, Groot-Brakrivier wat tydens die afgelope reënseisoen in grondverskuiwings begin kraak het.
Die besoek op Mosselbaai is afgesluit deur 'n oorsig van die Mountain View-ontwikkeling langs Louis Fourie-weg.
Groot-Brakrivier
Vyf gesinne het op Vrydag, 10 Desember 2021 elk 'n uitsettingsbevel ontvang om onmiddellik hul huise te ontruim na reënval die grond waarop hul huise gebou is, onstabiel gemaak het.
Kubayi was geskok om eers ter plaatse te hoor dat inwoners 'n uitsettingsbevel ontvang het sonder dat daar dadelik alternatiewe behuising aan hulle beskikbaar gestel is.
Sy het gelas dat die Mosselbaai-munisipaliteit vandeesweek nog met die inwoners moet vergader en dat terugvoering dan aan haar verskaf moet word.
Inwoners het verskeie vergaderings gehou in weerwil om te trek aangesien hulle geen heenkome het nie. Daar was nie voorsiening gemaak vir tydelike en alternatiewe verblyf nie.
Raadslid Anton Dellemijn en uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé het op Woensdag, 15 Desember 2021 die gemeenskap in Groot-Brakrivier toegespreek. Kotzé het tydens die vergadering die inwoners meegedeel dat die munisipaliteit nie in beheer van die behuising is nie, maar dat dit onder die distriks- en provinsiale owerhede val.
Hy het egter gesê dat die munisipaliteit, in samewerking met die gemeenskap, sal help waar hulle kan. Sodoende is tydelike verblyf in die vorm van Wendy-huisies verskaf.
Geen kontrakteurs was egter beskikbaar vir die oprigting daarvan nie. Die munisipaliteit het vraghouers verskaf waarin die inwoners se meubels gestoor kon word.
Aansoek ingedien
Die inwoners het egter verkies om gedurende Desember tot op hede in die beskadigde huise te bly. Volgens die direkteur beplanning en ekonomiese ontwikkeling van die Mosselbaai-munisipaliteit, Carl Venter, is 'n aansoek om alternatiewe behuising te voorsien met die provinsiale departement van menslike nedersettings bespreek.
'n Amptelike aansoek is ingedien en die munisipaliteit wag op terugvoering. Die munisipaliteit het intussen vyf vraghouers beskikbaar gestel waarin die geaffekteerde families hul huisinhoud kan stoor terwyl hul van alternatiewe akkommodasie gebruik maak.
Intussen gaan die department van menslike nedersettings voort met 'n ondersoek. Volgens inligting, sal 'n verslag na verwagting binne die volgende drie weke beskikbaar wees. Hierin sal die langtermyn vooruitsigte vir die geaffekteerde gesinne omvat word.
Van links: Die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertius Simmers, adjunk minister Pamela Tswete en die nasionale minister, Mmamoloko Kubayi tydens hul besoek aan Wolwedans in Groot-Brakrivier. Heel regs staan onderburgemeester, Clifford Bayman. Foto: Jannie du Plessis
Mountain View
Tydens die besoek aan Mountain View, het minister Kubayi oorwegend haar tevredenheid met die ontwikkeling te kenne gegee. Met die delegasie se besoek, het daar 'n gemoedelike atmosfeer geheers terwyl Kubayi, Simmers en Tshwete selfs moue opgerol en 'n stukkie van 'n muur geverf het.
Die beoogde voltooiing van die projek is einde Maart met die eerste okkupasie wat vanaf April sal geskied.
Kubayi het gesê dat die werk eers behoorlik afgehandel is wanneer lede van die gemeenskap wat vir huise geoormerk is, hulle intrek suksesvol neem.
Sy het voorts gesê dat sy die beloftes wat aan die gemeenskap gemaak word baie ernstig opneem en daarom wil seker maak dat dienste wel gelewer word.
Kubayi het gesê dat die werk eers behoorlik afgehandel is wanneer lede van die gemeenskap wat vir huise geoormerk is, hulle intrek suksesvol neem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'