MOSSELBAAI NUUS - Dit is baie duidelik dat areas waar effektiewe buurwagte en straatkomitees aktief is, se misdaadtendense afneem, en dit blyk dat misdadigers meer aktief raak in woongebiede waar minder gemeenskapsbetrokkenheid by misdaadvoorkoming voorkom.
Dit is van die gevolgtrekkings wat gemaak kan word uit die jongste misdaadtendense wat daarop dui dat huisbrake en diefstal van en uit voertuie veral in die Aslapark-area toeneem, terwyl dit merkbaar afgeneem het in areas waar die KwaNonqaba-polisie se buurtwagte en straatkomitees aktief patrolleer.
Oor die algemeen het voorvalle van roof in die KwaNonqaba-polisie se bedieningsgebied afgeneem.
Tog het voorvalle van huisbraak in Aslapark, Boggomsbaai en Vleesbaai toegeneem.
"Inwoners van gemeenskappe in die KwaNonqaba-polisie se bedieningsgebied word uitgenooi om die onderskeie sektorbevelvoerders en/of die kommunikasiebeampte, sers Kapp (044 606 5600) te kontak om by misdaadvoorkoming betrokke te raak.
"Groter sigbaarheid van buurtwaglede en straatkomitee-lede wat aktief betrokke is by die bestryding van misdaad, het 'n wesenlike invloed op misdaadtendense.
"Misdadigheid sal waarskynlik meer geredelik voorkom in areas waar inwoners nie by misdaadvoorkoming betrokke is nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'