MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van Groot-Brakrivier, Lorenzo Michaels (29) het die afgelope week R1 miljoen ryker geword toe hy op die radio-ontbytprogram Kfm 94.5 as die land se nuutste miljoenêr aangewys is. Michaels werk as 'n passer in die konstruksiebedryf en woon ongeveer 6km buite Groot-Brakrivier. Hy is daar gebore en getoë en het skool gegaan by Groot-Brakrivier Primêre Skool en toe gematrikuleer aan Groot-Brakrivier Sekondêre Skool.
Michaels en sy meisie, wat ook die ma van sy tweejarige seun is, het op Dinsdag, 1 Oktober na Kaapstad vertrek met die hoop dat Michaels die gelukkige wenner van die BIG September-kompetisie sal wees.
Agt uur later het Michaels 'n miljoenêr geword toe hy deur die radiostasie en LottoStar as die wenner van die R1 miljoen aangekondig is in die eindrondte van dié kompetisie.
Hy en sy meisie het dadelik hulle nuwe vooruitsigte gaan vier.
Op Woensdag, 2 Oktober het Michaels aan die Mossel Bay Advertiser gesê, dit het nog nie by hom ingesink dat hy 'n miljoenêr is nie.
"Ek is dankbaar. Ons sal ons skuld nou afbetaal. Boonop is ons besig om 'n huis te bou en sal dit nou kan klaarmaak."
Hy sê hulle het besluit om 'n "klein bietjie" van die geld te gebruik vir 'n vakansie saam. Maar volgens Michaels gaan sy lewe verder voort soos altyd. Hy gaan steeds werk by Gridline op Mosselbaai en is vol lof vir sy werkgewer, Len Norris. "My familie is ook opgewonde, maar dit het nog nie ingesink nie."
'n Niggie van Lorenzo, Andritt Michaels staan op die plek waar Lorenzo sy huis gaan bou. "Hy verdien die geld. Hy is nederig en werk hard."
Dit sink steeds by Lorenzo Michaels in dat hy 'n R1 miljoen ryker is.
Lees 'n vorige artikel hier: R1million winner from Mossel Bay
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'