MOSSELBAAI NUUS - Die Memorable Order of Tin Hats, beter bekend as die MOTH, is 'n nie-rassige, nie-politieke internasionale orde vir mans en vroue wat in die gewapende stryd om vrede en vryheid gedien het.
Die MOTH is die enigste veterane-organisasie wat spesifiek in Suid-Afrika gestig is waarna dit internasionaal uitgebrei is.
Die doel van die MOTH-orde is om 'n broederskap van kamerade te vestig wat strewe na troue kameraadskap, onderlinge hulp en opregte nagedagtenis.
Eg Suid-Afrikaans
Die organisasie is op 27 Mei 1927 gestig deur 'n veteraan uit die Eerste Wêreldoorlog by name Charles Evenden. Evenden het besef dat daar baie diensveterane was wat in verskillende soorte nood verkeer het, hetsy finansieel of emosioneel. Sommige het bloot net 'n behoefte gehad het om lid te wees van 'n groep wat kameraadskap toon soos dit voorheen aan hulle bekend was.
Daar was ook 'n behoefte om te verseker dat diegene wat tydens gewapende konflik gesterf het, se lewens en dienste formeel onthou sou word.
Die gewildheid van die MOTH het ná die Tweede Wêreldoorlog 'n hoogtepunt bereik wat tot in die laat 80s gestrek het.
Die tragedie in die bestaan van die MOTHs was dat 'n jonger generasie onaangeraak deur die Eerste en Tweede Wêreldoorloë gelaat is.
Die nuwe geslag het min van die opofferings en lewensverliese wat dapper mans, vroue en diere wat vir die vryheid van vandag geveg het, ervaar.
Tussen ±1974 tot ±1991 het Suid-Afrikaanse magte die land teen die bedreiging van Russiese oorheersing beskerm.
Hierdie Bosoorlog in Angola, het die MOTHs die tweede lewe gebied. In die lig van internasionale sanksies en waar die klein Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) genoodsaak was om teen die oorheersende getalle vegters en terroriste teenstand te bied, is nasionale diensplig vir jong seuns en mans ingestel. Gedurende hierdie tydperk het Suid-Afrika wêreldgehalte militêre toerusting ontwikkel.
Ook was die Suid-Afrikaanse weermag internasionaal bekend as die beste in Afrika, vergeleke met baie ander ontwikkelde lande en selfs in baie opsigte beter as van die ontwikkelde lande.
Teen die einde van die Bosoorlog het SA ongeveer 2 500 troepe verloor. Kuba tussen 10 000 en 15 000 lewensverliese of gewondes gehad, terwyl ± 56 000 eenvoudig gedros het. Syfers van slagoffers onder die kommunistiese Afrika-voetsoldate kan nie geskat word nie.
Word 'n lid
In die verlede was MOTH-lidmaatskap slegs vir veterane wat in die weermag vanaf die Eerste Wêreldoorlog tot die Grensoorlog gedien het, insluitend lede van die polisie wat frontlinediens gelewer het, asook lede van die Rhodesiese weermag.
Tydens amptelike geleenthede kan MOTH-lede dikwels herken word aan die simbool van die MOTH, 'n klein blikhoed wat aan die linkerkraag gedra word, wat hul trou aan die orde aandui. Die MOTHS word gevind in baie van Suid-Afrika se stede en dorpe en vergader gereeld in lokale wat bekendstaan as 'n bomgat.
Sommige van hierdie geboue is as museums ingerig en ander word soms verhuur vir openbare doeleindes en geleenthede.
"Daar is nou geleentheid vir alle belangstellendes wat voorheen deur bepaalde beperkings uitgesluit was, om deel van die MOTHS te word.
"Indien u aangeraak voel en 'n behoefte het om betrokke te raak by mense met soortgelyke kameraadskap of bloot net ons vriendskap soek of die welwillendheid en plesier wat ons groep geniet, wil beleef, sal die Blaize Away-bomgat (shellhole) van die MOTH-orde op Mossel-baai, u altyd met warmte en entoesiasme verwelkom. Ons bomgat is oop vir almal, mans en vroue, jonk en oud," nooi Anthony Janse van Rensburg van die Blaize Away-bomgat.
Blaize Away-bomgat is geleë by Montagustraat 89. Vir meer inligting, stuur e-pos na blaizeaway.adj@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'