Die eienaars van die die gewilde La Baquette restaurant in die Langeberg Mall, mnr Barend (Boetie) Burger en sy eggenoot, mev Susanna (Suzi) Burger, is volgens die SAPD woordvoerder vir die Da Gamaskop polisiestasie, kapt Wollie Fourie, omstreeks 02:00 in hul huis in die sekerheidslandgoed, Monte Christo, buite Hartenbos oorval.
Dit is nie bekend hoe die verdagtes die terrein ingekom het nie, want volgens die sekuriteits-personeel was die lasers, sowel as elektriese heinings geaktiveer en is niks verdags opgemerk nie.
Polisie
Met die Mossel Bay Advertiser se besoek vroeg Donderdagoggend, was die huis en erf deur die SAPD afgesper, 'n groot polisieteenwoordigheid op die toneel en het die SAPD Langeberg K9 Honde-eenheid, forensiese deskundiges en ander spesialis ondersoekers die huis en omge-wing vir leidrade gefynkam.
Die egpaar se huishulp, me Susan Swanepoel, sê sy het omstreeks 07:00 by die huis aangekom vir haar dagtaak en het die polisie op die toneel aangetref. "Ek het omtrent geskrik", het sy bygevoeg. Volgens haar het die egpaar in November vanaf Bayview na hul nuwe woning in Monte Christo verhuis. Ook die tuinier wat oomblikke later per fiets opgedaag het, het verslae toegekyk hoe die SAPD met hul ondersoek vorder.
Die egpaar se enigste dogter, Luami, is van die voorval in kennis gestel en het haar vanuit Kaapstad na Mosselbaai gehaas om haar ouers by te staan.
Die egpaar se vier Jack Russell hondjies het volgens bure in die nag baie geblaf. 'n Buurman het weens die geblaf die sekuriteit in kennis gestel. Een van die hondjies was blykbaar by die egpaar in die slaapkamer toe hulle deur die mans oorval is, en is later deur die polisie op die terrein gevind en na die huis teruggebring.
Aanvanklike aanduidings is dat die rowers met 'n televisie, rekenaartoerusting, 'n selfoon en kontant ontvlug het.
Mnr en mev Burger is met die Metro Ambulansdiens na 'n plaaslike hospitaal gehaas waar hulle vir veelvuldige mes- en kapwonde behandel is.
Beserings
Die Hoof Kommunikasiebeampte van die Wes-Kaapse Gesondheisdepartement, mev Nadia Ferreira, het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat die Burger egpaar by Mosselbaai Hospitaal gestabiliseer en behandel is voor hulle omstreeks 10:00 op Donderdagoggend na die Life Bayview Hospitaal oorgeplaas is.
Beveiliging
'n Monte Christo inwoner, mnr AP Olivier, het aan die Mossel Bay Advertiser berig dat toegangsbeheer en -veiligheid vir inwoners 'n bepaalde kommer is.
Me Cesserien Booyens, namens die Huiseienaarsvereniging, berig dat tydens die "AJV in Mei vanjaar, 'n bedrag van R350 0000 bewillig is vir die opgradering van sekuriteit waarby ingesluit was noemenswaardige verbeteringe aan toegangsbeheer en infrastruktuur. Die grootste gedeelte van hierdie verbeterings by die 24-uur bemande toegangs-punt is reeds afgehandel".
Sy het gemaan dat dit steeds eienaars se eie verantwoordelikheid is om na hul eiendom en persoonlike veiligheid om te sien, selfs al sou hulle in 'n veiligheidskompleks woon, veral aangesien soortgelyke voorvalle ook by ander soortgelyke landgoedere plaasvind.
Die Mossel Bay Advertiser het verneem dat die Monte Christo Huiseienaarsvereniging op Donderdagmiddag om 15:00 'n spesiale vergadering gehou het om die voorval te bespreek.
Wees bedag
Die Bevelvoerder van die Da Gamaskop SAPD Sone, brig Gerhard Jantjies, was Donderdagoggend vroeg op die toneel om hom persoonlik van die vordering van die ondersoek te vergewis.
Hy het gemaan dat inwoners en veral vakansiegangers noulettend op hul veiligheid bedag moet wees. Hy het gewaarsku dat die vakansiegees nie moet meebring dat veiligheidsmaatreëls afgeskeep word nie.
Enigiemand wat oor inligting oor die voorval beskik, word versoek om Speurder Ao Arlene Stokes van die Da Gamaskop SAPD by 072 461 9329 te kontak. Inligting sal streng vertroulik hanteer en positiewe inligting goed beloon word.

By hierdie huis in die Monte Christo veiligheidskompleks is 'n egpaar wreed aangeval in die middernagtelike ure van Donderdag, 12 Desember. 'n Groot polisieteenwoordigheid met spesialis ondersoekers was binne oomblikke op die toneel en het die area vir leidrade gefynkam.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'