MOSSELBAAI NUUSFLITS - 'n Agt-en-twintigjarige man is verlede week in hegtenis geneem by die taxistaanplek in die sentrale sakekern, tydens verskerpte pogings van die Mosselbaai-polisiestasie om dwelmhandel in die middedorp hok te slaan.
Die verdagte is tydens 'n bedekte optrede op Woensdag, 11 April in hegtenis geneem.
Tydens sy inhegtenisnemng, het die polisie op ses bankies tik beslag gelê. Die verdagte het Vrydag, 13 April in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Volgens die bevelvoerder van die Mosselbaai-polisiestasie, lt kol Albert Haggard, word daar al 'n geruime tyd talle klagtes ontvang aangaande die taxistaanplek en die aangrensende gebied.
"Ons het al verskeie optredes van stapel gestuur om die kriminele bedrywighede hier vas te vat en ons sal nie stop totdat ons die dwelmnes daar uitgeroei het nie," het lt kol Haggard by navraag gesê. Luitenant-kolonel Haggard het gesê dat die misbruik van dwelms altyd met ander misdrywe ook gepaard gaan.
"Wanneer ons te doen het met dwelmmisbruik en -handel, is daar altyd 'n ruiling van gesteelde goedere ook betrokke."
Luitenant-kolonel Haggard het spesifiek verwys na "ongure karakters" wat voortdurend by die taxistaanplek opgemerk word.
Volgens lt kol Haggard, is die polisie in samewerking met die Mosselbaai-munisipaliteit betrokke by doelgerigte optrede om die "dorp skoon te maak".
* Na volgehoue druk en samewerking van die gemeenskap in Tarka, is een van die woongebied se grootste kopsere, 'n erkende dwelmhuis geleë in Bokmakierestraat 118, uiteindelik iets van die verlede. Daar is vroeër vanjaar deur die staat op die huis beslag gelê en die eiendom is intussen verkoop om te verhoed dat dit verder 'n steen des aanstoots vir die gemeenskap is. Die vorige eienaar van die huis, Louis Company, 'n veroodeelde dwelmsmous, dien tans gevangenisstraf uit.
Lees meer oor hierdie geskiedkundige uitspraak, 'n eerste in die Suid-Kaap, in Vrydag se Mossel Bay Advertiser.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'