Micha het op die een of ander manier in 'n drom olie beland.
Nadat sy die katjie drie maal gewas het en haar lyf steeds taai was, het sy besef sy moet hulp kry.
Iemand het voorgestel dat sy die 'pikkewyn'-mense skakel en Carol Walton van SAPREC het gesê sy moet vroeg Maandagoggend by die sentrum aanmeld.
Volgens Corinne was Carol se hulp fantasties. Ten spyte daarvan dat SAPREC se gasgeyser onklaar is, het Carol en haar hulp Piet, by al die bure ketels warm water gaan haal, omdat die wasmiddel waarmee seevoëls gewas word met louwarm water moet geskied.
Daar is vir sowat 'n halfuur geskrop om die sterk benzien reuk en meeste olie te verwyder, waarna Carol van die dierevriendelike produk aan Corinne gegee het om die behandeling tuis te gaan herhaal.
Houtskool is ook saamgegee om die gif tee te werk wat Micha ingekry het terwyl sy haarself probeer skoonlek het.
Corinne - en natuurlik Micha - is baie dankbaar vir die vriendelike en hulpvaardige diens wat hulle van SAPREC en veral Carol en Piet ontvang het.
Sy wil graag 'n beroep doen indien iemand oor 'n gasgeyser beskik om dit aan SAPREC te skenk. Dit is 'n uiters belangrike item waarsonder die nodige nie gedoen kan word nie.
Indien u kan help, kontak asseblief vir Carol by 082 364 3382.
.jpg)
'n Bedremmelde Micha vol olie

Die skoonmaakproses ....

Micha is haar ou self met 'n pels wat blink.
ARTIKEL: TERSIA MARAIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'