MOSSELBAAI NUUS - Die Wes-Kaapse LUR van finansies, dr Ivan Meyer en die Switserse konsul-generaal, Andreas Maager, het Maandag 'n boom wat gesonde internasionale betrekkinge tussen Mosselbaai en die internasionale gemeenskap simboliseer, besoek.
Minister Meyer het saam met die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, uitvoerende raadslede en uitvoerende munisipale amptenare 'n bestekopname gedoen oor die vordering met die vennootskapsooreenkoms tussen Mosselbaai-munisipaliteit en Denpasar van Indonesië.
"Met 'n amptelike ekonomiese groeisyfer van slegs 0.7% in Suid-Afrika, moet die Wes-Kaapse regering sterker klem lê op kulturele diplomasie en bande met veral die Ooste, waar die ekonomiese groeikoers baie gesond is. Oosterse lande, soos Indonesië het 'n sterk verbruikersekonomie en die uitdaging vir die Wes-Kaap en vir Mosselbaai is om produkte te lewer vir daardie verbruikers," het dr Meyer benadruk.
Hy het bygevoeg dat besluite deur beide die Wes-Kaapse parlement en die Mosselbaai munisipale raad die vennootskapsooreenkoms bekragtig. Burgemeester Levendal het benadruk dat die fokus vir Mosselbaai op werkskepping en investering berus. Hy het daarom die teenwoordigheid van dr Paul Kruger, voorsitter van dieMosselbaai Besigheidskamer en die uitvoerende hoof van Mosselbaai Toerisme, Aneli Gerber, verwelkom.
Kindervriendelik
Die minister het sy tevredenheid uitgespreek oor die vordering wat gemaak word met die vennoot-skapsooreenkoms met Denpasar.
Hy het Mosselbaai egter uitgedaag om meer kindervriende-lik te wees. Verskeie voorstelle, soos om kindervriendelike sones binne biblioteke en regeringsgeboue te vestig, selfs om Mosselbaai onder toeriste as 'n kindervriendelike omgewing te bemark, is bespreek.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het ook ander inisiatiewe, onder meer die voorgestelde spesiale ekonomiese zone en die geleenthede wat die ontdekking van 'n gasveld deur die Franse energiereus Total buite die Suid-Kaapse kus ontdek het met die minister opgeneem.
Wat die spesiale ekonomiese sone betref, het minister Meyer aangeraai dat Mosselbaai-munisipaliteit beheer moet neem. Hy het gevra dat die Mosselbaai Besigheidskamer betrek moet word en het bereidwilligheid getoon om met die befondsing van 'n behoorlike lewensvatbaarheidstudie behulpsaam te wees.
"Betrek alle belanghebbendes by die proses, dit is noodsaaklik om 'n ekonomiese infrastruktuur tot stand te bring wat armoedeverligting teweeg sal bring," aldus minister Meyer.
"Eskom is nie die toekoms nie, ek is opgewonde oor die vooruitsigte van die Brulpadda-projek. Betrek dr Hildegard Fast van die Wes-Kaapse regering wat as skakel kan dien met die nasionale tesourie," het die minister geadviseer.
Hy het gesê hierdie energie game changer sal aansienlike ekonomiese voordeel vir die Suid-Kaap meebring.
Die Wes-Kaapse LUR van finansies, dr Ivan Meyer (derde van regs) en die Switserse konsul-generaal, Andreas Maager (vierde van regs) het Maandag besoek gebring aan 'n boom, geplant by die Dias Museum, wat gesonde internasionale betrekkinge tussen Mosselbaai en die buiteland simboliseer. Saam op die foto is die voorsitter van die Mosselbaai Besigheidskamer, dr Paul Kruger (tweede van links), uitvoerende raadslede, asook die burgemeester, raadsheer Harry Levendal (middel) en munisipale bestuurder,
Minister Ivan Meyer (middel) het saam met die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, uitvoerende raadslede en uitvoerende munisipale amptenare gesprek gevoer oor die vordering met die vennootskapsooreenkoms tussen Mosselbaai-munisipaliteit en Denpasar van Indonesië.Foto: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'