MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai is 'n gevoelige slag toegedien na die gewelddadige dood van twee tieners uit dieselfde skool in minder as twee dae.
Nie net is die gemeenskap in sy geheel diep ontsteld oor die misdadigheid nie, maar het Mosselbaai, algemeen bekend as 'n vakansiedorp, die nasionale nuus gehaal vir al die verkeerde redes.
In Barracudastraat, Uitbreiding 13, is familie en vriende van Michaela Booysen (17) byeen om in samehorigheid oor hulle verlies met die Mossel Bay Advertiser te gesels.
Michaela was saam met haar kêrel, Kealin Michaels (24) te voet op pad huis toe, toe onbekende mans op hulle afstorm, haar 'n noodlottige hou teen die kop met 'n piksteel gegee en van onder meer haar tekkies beroof het. Kealin het met sy lewe daarvan afgekom.
Mooi van binne
'n Merkbaar emosionele Kealin is Dinsdag tydens die gesprek met die Advertiser, deur sy ma Elsabe ondersteun. Hy vertel met moeite oor die gebeure van Sondag, 6 Oktober kort na 03:00. "Ons het geloop en gesels toe daar mans van die bokant van Dywilistraat in ons rigting gehardloop kom. Hulle het Michaela met 'n piksteel oor die kop geslaan en sy het geval. Ek het niks by my gehad om ons te verdedig nie."
Kealin het by Michaela gehurk terwyl die polisie en die ambulansdienste op pad was. "Sy het heeltyd vir my gekyk en haar oë geknip." Sy is met die ambulans se aankoms op die toneel dood verklaar.
Suzette Booysen, Michaela se tante, aan wie sy baie na was, sê dat sy liefdevol was en haar graag oor ander ontferm het. "Sy het graag haar maats raad gegee. Sy het altyd gesê jy moenie net mooi wees van buite nie, dit gaan oor hoe jy van binne lyk. Sy het dit nog onlangs op haar facebookblad geskryf."
Samehorigheid
Ten spyte van tragedie wat weer sy skadu oor Barracudastraat se Booysens kom gooi het, is samehorigheid die sleutelwoord.
Tydens die Advertiser se besoek, is Michaela se pa, Shaun Kiewiet binne besig om die huis uit te verf. Shaun is tans onder korrektiewe toesig. Hy het voorheen tronkstraf uitgedien vir die moord op Michaela se ma in 2006. Michaela was toe vier jaar oud. (Mossel Bay Advertiser, Aanval skok, 1 November 2006)
In 2014, is Shaun versoen met die Booysens. Dit het tydens 'n openbare geleentheid gefasiliteer deur die departement van korrektiewe dienste in die binnenshuise sportsentrum, Uitbreiding 23 plaasgevind. Tydens die geleentheid, kon die gemeenskap in gesprek met hom tree en moes hy hulle vergifnis vir sy dade vra. (Mossel Bay Advertiser, Gesprek bring versoening,1 Augustus 2014)
Mary Booysen, Michaela se ouma wat haar en haar twee sibbe sedert 2006 grootgemaak het, haal die koerantuitknipsel uit die Mossel Bay Advertiser van Augustus 2014 waarin berig word oor die versoeningsessie, uit haar sak. "Ek het hom daardie dag vergewe. Dit maak my ongelukkig wat alles nou weer van ons geskryf word."
Familielede bevestig dat Shaun sedert hy in die gemeenskap herintegreer is in 2018, die Booysens nie net finansieel ondersteun volgens sy vermoë nie, maar dat hy gereeld in Barracudastraat kom help met opknappingswerk.
'Loop nie kwaad nie'
"Ek dank die Here dat ek ongeag wat ek in hierdie lewe deur is, ek nie met dáái gevoel loop nie. Want 'n mens loop nie kwaad nie."
Vincent Bosman, 'n familielid sê tant Mary is hierin vir die familie 'n voorbeeld. "Sy sê altyd vergifnis is genoeg. Al is dit hóé seer, ons kan nie kwaad wees vir iemand anders nie."
Ida Kiewiet, Shaun se tante sê dat die mediaberigte van die afgelope week haar baie ontstig het. "Ons as Kiewiet-familie voel net so getref. Al die ou wonde is ook weer oop."
Sy sê die verlies is al erg genoeg, maar dit wat nou weer oor die verlede gesê word, maak die seerste. "Die stories en die stertjies wat mense bylas. Mense het voice notes rondgestuur nog voor die hele famlie geweet het van Michaela. Het mense nie meer respek nie?"
Shaun staan lank eenkant tydens Dinsdag se onderhoud met die Advertiser. "Mevrou, ek het vergifnis gevra vir wat ek verkeerd gedoen het. Ek het ook seer. Nou kyk en praat almal weer. As mevrou vir my net een sin kan skryf, dat mense mekaar tog nie so moet oordeel nie."
'n Biduur word vir Michaela gehou op Donderdag, 17 Oktober om 19:00 in die St Blaize Katolieke Kerk. Die huisdiens is op Saterdag, 19 Oktober om 09:00 by Barracudastraat 33 en die begrafnis om 10:00 uit die St Blaize Katolieke Kerk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'