MOSSELBAAI NUUS - Desray Rabe het op skool geen toekomsdrome gekoester om verder te studeer nie. Sy wou 'n gesin hê. Maar toe haar huwelik tot niet gaan, het daar 'n gans nuwe pad vir haar begin. Sy het in Februarie vanjaar haar graad in maatskaplike werk na 10 jaar verwerf.
Op 23 het Desray 'n aneurisme oorleef. Sy het bo almal se verwagting na drie weke uit haar koma ontwaak, maar moes opnuut leer loop, praat en skryf – boonop met haar linkerhand.
"Ek gebruik my hele brein. Wat 'n bonus," lag sy. Sy verduidelik dit aan die hand daarvan dat sy ná haar aneurisme van regshandig, linkshandig moes word.
Tydens 'n terapeutiese sessie met 'n sielkundige saam met haar seuns, is die saadjie vir verdere studie geplant. Aanvanklik het sy gelag en gewonder of die persoon werklik dink dat sý wat Desray is, kán studeer.
Sy het aanvanklik sielkunde studeer, maar toe 'n koersaanpassing gemaak wat haar soos 'n handskoen pas.
Die afgelope twee jaar was sy verbonde aan die Association of People with Disabilities op Mosselbaai waar sy haar praktiese werk gedoen het en sy is in haar element.
"Ek geniet dit verskriklik baie, omdat hierdie ervaring my werklik in aanraking gebring het met die lewe en wat die lewe aan mense doen."
Danksy haar eie ervaring deur saam te leef met haar gestremdheid, het sy 'n unieke begrip vir haar teikenmark se behoeftes.
"Die belangrikste om te onthou, is dat persone met gestremdhede steeds dinge kan doen - al is ons nie 100% nie. Ons kán en wíl steeds 'n bydrae tot die samelewing lewer."
Sy meen dat om haar praktiese ervaring tydens die Covid-19-pandemie te kon opdoen, 'n besonderse leerskool was.
"Boekekennis kan 'n mens oral kry, maar daar is niks soos om fisies te werk en ondervinding op te doen nie." Sy vewys na mense se behoefte daaraan dat iemand net na hulle moet luister - met begrip.
"Mense se geneigheid is om te luister met die oog daarop om te kan antwoord. Hulle luister nie om te verstaan nie. As jy luister met begrip, gaan 'n nuwe wêreld vir jou oop."
Desray meen dat haar pad om aan te pas by haar gestremdheid, haar baie deursettingsvermoë geleer het. Daarom was die jarelange studie om haar graad te behaal, nie vir haar ooweldigend nie.
"Eintlik is 10 jaar, glad nie so 'n lang tyd nie," lag sy. Haar keuse van perspektief was een van positiewe denke. Boonop het sy deur middel van die geloofsgemeenskap waaraan sy behoort, geweldige ondersteuning gekry. Ten spyte hiervan was dit nie altyd maklik nie.
"Baie mense was skepties. Sommige het my amper aangemoedig om eerder die handdoek in te gooi. Ek moet ook byvoeg dat afstandsonderrig nie maklik is nie. Daar is nie noodwendig medestudente wat jy kan bel en waarmee jy kan saampraat as jy sukkel nie."
Tans sien sy uit daarna om haar kennis toe te pas, haar bydrae te lewer en haar onafhanklikheid verder uit te brei deur 'n vaste betrekking te kry.
Haar raad is dat, ongeag die uitdagings, 'n mens nooit aan jouself moet twyfel nie.
"As jy iets wíl doen, dan sál jy. Niemand gaan jou stop nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'