Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - In 'n wêreld waar kitsoplossings en die soeke na onmiddellike bevrediging die wagwoord geword het, is dit bykans ondenkbaar dat iemand meer as 50 jaar sal wag om 'n gunstelingtydverdryf weer één keer te kan beoefen.
Ampie Reinecke (79), 'n kankerpasiënt het bewys, dat dít wel moontlik is toe hy gister, 29 November vir die eerste keer in 51 jaar weer valskerm gespring het.
Hy het Suid-Afrika in die sestigerjare in valskermspring verteenwoordig, tot sy geliefde vrou, Dot vir hom sê dat haar senuwees die springery nie kan hou nie, hy moes kies - valskermspring of sy. Getroud vir 58 jaar, reken Ampie dat sy opoffering nietemin 'n goeie besluit was.
'n Bondel wasgoed
Ampie, oorspronklik 'n Vrystater, sê dat hy begin spring het in die dae toe 'n valskerm nog "soos 'n bondel wasgoed" gelyk het. Om die affêre boonop gestuur te kry in 'n spesifieke rigting was nie speletjies nie, maar hy het glo uitgeblink.
Nadat hy sy liefhebbery vir die liefde van sy lewe opgegee het, het hy en sy vrou Dot die wêreld gesien en baie in die buiteland gereis. Deurgaans het hy bly droom dat hy weer eendag sou valskermspring.
Hy bieg dat hy dikwels in die geheim elke geleentheid aangegryp het om ten minste te kon abseil. Bungee-spring was hoog op sy lys, maar ook dáárvoor het sy Dot 'n sorgsame stokkie gesteek.
Saam het hulle egter die buitelewe geniet. Ampie het hom uitgeleef in ander sportkodes deur provinsiaal te kompeteer in tennis, tafeltennis, asook muurbal. Hy was ook 'n lid van die George-mannekoor, saam met wie hy internasionaal getoer het.
"Daar is amper nie 'n ding wat ek nié aangevang het nie," skerts hy.
Gesondheid
Ten spyte van sy fiksheid en dat hy nooit gerook het en ook nie alkohol gebruik het nie, was daar gesondheidstruikelblokke. In die laat sewentigerjare, word daar velkanker in sy gesig ontdek. Op advies begin hy toe 'n bokbaardjie dra, wat later tot 'n volbaard ontwikkel. In die 1980's, eis Guillain-Barré-sindroom amper sy lewe. Hoewel hy danksy sy goeie gesondheid wonderbaarlik oorleef het, het die siekte 'n spoor op sy lewe gelaat.
Sowat 12 jaar gelede, nadat Ampie se PSA-vlakke abnormaal getoets het, ontvang hy brachiterapie vir prostraatkanker. Melanoom is per abuis op sy kopvel ontdek en betyds verwyder.
Instrukteurs Corne Moolman (links) en Arenhold Hooper (regs) saam met Ampie Reinecke en Japie du Toit, die uittredende streekshoof van Life Healthcare wat toevallig ook vandag 'n droom bewaarheid het deur die vir eerste eer valskerm te spring.
Toe erge longontsteking hom drie jaar gelede vir die eerste keer in sy lewe plattrek, het toetse verder slegte nuus gebring. Blaaskanker het ontwikkel en die kanker het ook na sy ruggraat en bekken versprei.
Spring vir kanker
Ampie was, die terugslae ten spyt, vasberade om voor sy tagtigtste verjaarsdag weer valskerm te spring. In oorleg met die spesialiste wat hom behandel, drs Pieter Steenkamp, 'n uroloog en Riaan Jacobs, 'n ortopediese chirurg, toevallig ook 'n valskermspringer, het hulle die groen lig gegee. Dokter Jacobs het vertel dat hy en Ampie gereeld oor valskermspring gesels het, en oor sy begeerte om weer te spring.
"Ek spring vandag vir kanker, want as ek kan bewys dat ek as 'n ou krok van bykans 80 nog 'n hop kan doen, dan moet dit iets beteken vir kankerbewusmaking."
Ampie wou die sprong so ná moontlik aan sy verjaarsdag doen, maar sê hy, hy kan "tussen die lyne lees" waarom sy dokters juis nou ingestem het.
Terug op Moeder Aarde, was Dot eerste by. "Dankie my lief dat jy my toegelaat het," het Ampie dadelik gesê toe sy by hom kom.
Sy vrou Dot sê sy weet dit was altyd 'n groot begeerte vir Ampie om weer valskerm te spring. "Ek wens net hy't vir my gesê hy wil dit op sy sestigste of sewentigste verjaarsdag doen. Nou sê ek maar vir hom, hierdie een kan hy ten minste uiteindelik van sy bucket list afkrap," lag sy. Sy sê dat Ampie die mens is wat haar die meeste laat lag het en ook die kwaadste in haar lewe gemaak het.
"Dis my verjaarsdagviering, 'n groot mylpaal. 'n Bitter groot mylpaal, waarna ek met 'n rustige hart eendag my kop kan neerlê," sluit Ampie af.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'