MOSSELBAAI NUUS - Twee matrikulante wat Sondag, 5 Desember op Mosselbaai aangekom het om hulle matriekvakansie te kom geniet, is Maandag deur twee onbekende mans beroof.
Die meisies, beide 18 jaar oud, was omstreeks 13:30 te voet in Beach Boulevard Oos, Diasstrand onderweg toe twee mans hulle konfronteer en 'n selfoon by hulle afneem. Die mans het hierna op die vlug geslaan.
Lede van die Diasstrand-buurtwag, asook 'n lid van die publiek, Wayne Watson het die rowers sien weghardloop.
Watson het die mans agternagesit en by Agri in Voorbaai in Industrieweg opgemerk. Hy het een van die verdagtes, 'n 16-jarige onder bedwang gebring.
Twee lede van die KwaNonqaba-polisie wat in die omgewing op patrollie was, konstabels Donovan Duitsjan en Johnathan Boesak het die tweede verdagte agternagesit. 'n Tweede verdagte (24) is in hegtenis geneem.
Die gesteelde selfoon is teruggevind en aan die regmatige eienaar oorhandig.
"Met die vakansieseisoen voor hande, is daar nuwe uitdagings wat polisiëring betref. Die rol van buurtwagte is van kardinale belang in misdaadbekamping, veral met die toename in besoekers aan Mosselbaai en omgewing," sê kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
Konstabels Johnathan Boesak en Donovan Duitsjan.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'