Volgens inwoners en besigheidseienaars in die area het riool die afgelope twee dae uit ‘n riooldam in Voorbaai deur drie groot pype in die rivier geloop nadat die pomp wat die riool na die watersuiweringswerke moes oorpomp skynbaar onklaar geraak het.
Inwoners het die munisipaliteit na bewering herhaaldelik oor die probleem gekontak sedert dit aanvanklik opgemerk is, en vanoggend omstreeks 09:00 is beamptes van die munisipaliteit by die rioolwerke opgemerk waar hulle vermoedelik aan die pompe gewerk het. Sedert hulle aankoms het die vlak van die opgedamde riool in die riooldam binne sowat ‘n driekwartuur met tot soveel as ‘n meter en tot onder die drie uitlate gesak.
Intussen is dit duidelik dat die riool die ongerepte Tweekuilen-riviermonding en strandmeer besmet het. Die rivier mond nie tans in die see uit nie. Hoewel heelwat voëllewe vroegoggend nog daar sigbaar was, en veral broeipare voëls op neste langs die watervlak opgemerk is, berig inwoners dat die flaminke wat gewoonlik hierdie tyd van die jaar daar aandoen, wel gister in die omgewing opgemerk is waar hulle oor die water gevlieg het maar nie kom sit het nie.
“Die Munisipalliteit betreur die voorval, maar ons stem nie saam met die stelling dat die Munisipaliteit gehuiwer het om die situasie aan te spreek nie. Daar is onmiddellik stappe geneem om die betrokke pompstasie weer in werking te kry toe die probleem agtergekom is.
"Die 85 rioolpompstasies van die Munisipaliteit word 24 uur per dag van ‘n sentrale kontrolekamer af deur middel van ‘n telemetriestelsel gemonitor, en die stelsel het niks abnormaal by die betrokke pompstasie getoon nie. Die noodkragopwekker by die pompstasie om te verseker dat dit aanhou werk gedurende kragonderbrekings het ook nie aangegaan nie, en die vermoede is dat albei probleme veroorsaak is deur die kort, sporadiese kragonderbrekings wat gistermiddag plaasgevind het weens veldbrande wat in die omgewing van die Proteussubstasie op die Herbertsdalepad voorgekom het.
"Die Munisipaliteit aanvaar verantwoordelikheid vir die opruiming van die riool, en is besig om ‘n kontrakteur aan te stel om die riool in die rivier op te ruim.
"Die kuil is ‘n natuurlike kuil, en die riete kom natuurlik daar voor.”



