Die wit gebou het ook aan Wassung en sy vennoot, ene Soubrier, 'n Fransman, behoort. Dit was glo die oudste dranklisensie op die dorp en Wassung wou dit nie verloor nie en het toe die lisensie laat oordra na die gebou verder op in Kerkstraat, waar dit vandag nog handel dryf onder sy naam ("Wassungs Liquorland".)
Vandag staan Shoprite waar Wassung was. Die volgende gebou in die Punt se rigting, was "Sossin & Osrin", beroemd vir puik meubels en huisraad. Die gebou het taamlik van eienaars verwissel. Onlangs nog was dit die bekende juwelierswinkel "Bardin's", wat getrek het na Heiderand en nou is dit 'n Sjinese winkel wat snuistery verkwansel.
Heel links, aan die noordekant van Marshstraat (hier nog ongeteer), is die winkeltjie wat Alwyn Vintcent vir sy vriend, C W Courtenay laat oprig het as 'n "tydelike" heenkome toe Courtenay moes padgee uit sy winkeltjie omtrent waar Postnet vandag staan, omdat 'n hele nuwe sentrum daar opgerig sou word. Alwyn Vintcent is egter kort daarna oorlede toe sy skip deur 'n Japanese duikboot gekelder is op pad terug van Brittanje. Courtenay's is vir meer as 60 jaar daar bedryf.
Die volgende gebou met die wit gewel, was "Dickensons", invoerders van pragtige geskenke vir dames met smaak vanuit Londen en Parys (Frankryk, nie Vrystaat nie). Enige geskenk wat hier gekoop is, is in Dickensons se eie, eksklusiewe papier toegedraai, wat dadelik aan die ontvanger die boodskap gegee het dat dit heelwat gekos het.
Die Foto-Expo sal ongelukkig weens die konstruksiewerk aan Montagustraat tydelik gesluit wees tot verdere kennisgewing. Enige navrae kan aan die kurator by 083 974 7577 gerig word.

Mosselbaaiers sal Marshstraat van die 1800’s skaars herken. Hierdie foto is deel van ‘n versameling ou foto’s van Mosselbaai. Rig navrae aan die kurator by 083 974 7577.