MOSSELBAAI NUUS - Bounty Wildsverwerking met Div de Villiers aan die stuur, was weer Woensdag, 1 Februarie getrou op hulle pos om vir die gholfers by die Mosselbaai-gholfklub ‘n heerlike borgdag aan te bied.
Marius Gouws, ‘n man wat jy nie dikwels onder die pryswenners sien nie, het die beste ronde van sy lewe gespeel en die individuele stablefordkompetisie op ‘n allemintige 46 punte gewen.
Maklik het dit egter nie gegaan nie, want Clive Theys het ook 46 punte aangeteken, maar moes na die uittel bes gee.
Die borg, Div de Villiers, het self nie op hom laat wag nie en met 45 skitterende punte het hy die derde plek ingeneem.
Die altyd bestendige Albie Ellman het met 43 punte vierde geëindig. André Bruwer en Cecil Gericke se 41 punte het hulle ook nog prystafel toe laat stap.
Bogenoemde uitstekende tellings is aangeteken op setperke wat pas die “hollowtine” proses deurloop het. Welgedaan al julle presteerders.
Saterdag
Die skote het Saterdag, 4 Februarie behoorlik geklap toe 164 spelers aan die beterbal stablefordkompetisie deelgeneem het. Clive Kaptein en Brown Vorster het goed uit die blokke gekom en uitstekend kombineer om 47 punte op die telbord te plaas en sodoende die kompetisie te wen.
Oud-kaptein en -president, Chris Murray, en André van der Merwe het na jare se afwesigheid eindelik weer hulle opwagting by die prystafel gemaak.
Hulle 46 punte het hulle as naasbestes uit die stryd laat tree. Goed om die ou manne terug te sien.
Op 45 punte moes die uittelstelsel die beslissing fel en hier het Anton Izaakse (snr) en Christo Jonck sukses behaal. Vierde was Peter en Brigitte Wittmer.
David Bourhill en JJ Joubert het ook hulle deel van die koek gekry en het op 45 punte vyfde geëindig.
Met Februarie wat fluks vorder en ‘n pragtige baan wat roep na jou, kom en geniet die skoonheid van die natuur en die samesyn met wonderlike vriende.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'