Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Maria Sam sit fier en kiertsregop ten spyte van die 90 kersies op haar verjaarsdagkoek. Sy het op 19 Maart verjaar.
Dié gebore Jansenviller vertel dat sy op haar ouderdom nog blakend gesond is.
"Ek het geen een kwaal nie en voel lekker en gesond." Sy drink nie eens 'n bloeddrukpil nie. Haar dieet, verduidelik sy, het nog al die jare net uit gesonde kos bestaan. Maria, moeder van Mosselbaaier William Sam, wat onlangs in die nuus was vir sy boek oor die verhale van plaaslike bruin soldate wat in die bosoorlog geveg het, het 'n groot nalatenskap. Sy het agt kinders, waarvan sy vier oorleef het, 14 kleinkinders, 14 agterkleinkinders en sowaar een agter-agterkleinkind.
Sy was 50 jaar met Philemon Sam getroud. Hulle het mekaar op Oudtshoorn ontmoet en vandaar op Mosselbaai kom vestig.
Maria het nooit skool toe gegaan nie, maar sedert haar kinderdae kombuiswerk gedoen. Haar seun William meen dat dit die rede vir haar kosvernuf is. Tydens haar kosmaakjare, het sy nooit 'n sent van haar betaling gesien nie. Haar ouers het dit altyd namens haar ingevorder.
Tog meen sy, dat sy haar geseënde, lang lewe daaraan te danke het dat sy so gehoorsaam aan haar ouers was. "Dis hoekom ek 90 jaar oud geword het."
Kyk 'n verskafde video hieronder:
Maria was ook 'n vroedvrou. "Mense het my kom haal, dan vang ek die babas. Later het ek sommer my eie ook gevang." Haar kerk het haar gekies vir nog 'n moedige taak en dit was om die liggame van afgestorwenes te was. Ook dit het sy vreesloos gedoen.
As daar een les is wat sy vir ander sou wou leer, is dit hoe om met mense, veral siekes en dié wat swaarkry te werk.
William vertel dat hy by sy ma geleer het dat harde werk goed beloon word. Hy sê ook dat hy altyd gesien het hoe sy pa sy weeklikse salaris netso vir sy ma gegee het sodat sy die geldsake kon bestuur. Hy pas hierdie beginsels in sy eie huwelik ook toe. Sy liefde vir sy gemeenskap, het hy ook aan moedersknie geleer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'