MOSSELBAAI NUUS - ‘n Man van Mosselbaai wat daarvan beskuldig word dat hy bejaarde vroue met Alzheimer se siekte verkrag en seksueel aangerand het, sal na verwagting op Dinsdag, 24 Augustus 'n pleitooreenkoms met die staat aangaan.
Die 36-jarige verdagte is sedert sy inhegtenisname in September 2020 in aanhouding.
Die man het by die fasiliteit Adler's Nest onderhoudswerk gedoen.
Sy werkgewer het dadelik nadat die bewerings aan die lig gekom het die polisie op Mosselbaai gebel en die verdagte aan die polisie oorhandig.
Volgens inligting het die eienaar van Adler's Nest die verdagte jammer gekry omdat hy nie werk gehad het nie en hom probeer help deur vir hom onderhoudswerk aan te bied.
Dit was 'n uitdruklike opdrag dat die verdagte nie naby die bejaarde inwoners of in die fasiliteit mag gekom het nie.
Skokkende aanklagte
‘n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagte homself deur 'n venster aan ‘n 79-jarige vrou ontbloot het. Die polisie is ook in besit van beeldmateriaal van kringtelevisiekameras waar die verdagte na bewering ‘n 96-jarige vrou verkrag en seksueel aanrand.
Kinderpornografie is ook tydens die polisie se ondersoek op die verdagte se selfoon ontdek. Die Mossel Bay Advertiser het die skokkende bewysstukke onder oë gehad en die blonde dogtertjie van wie die foto's geneem is, is nooit opgespoor nie.
Hoewel daar intussen ook 'n saak van bestialiteit teen die verdagte aanhangig gemaak is, is dit onwaarskynlik dat hy op die aanklag sal pleit. Dit spruit voort uit 'n voorval by 'n gasteplaas duskant Oudtshoorn waar die verdagte glo gepoog het om met 'n bok seks te hê.
Die verdagte staar 12 aanklagte in die gesig wat onder meer verband hou met verkragting, seksuele ontbloting en die besit van kinderpornografie. Hy sal na verwagting 'n pleit- en skuldooreenkoms met die staat aangaan.
Die ondersoekbeampte in die verband is ao Alistair Rezant van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'