MOSSELBAAI NUUS - Nadat 'n saak van bedrog by die Da Gamaskop-polisie aanhangig gemaak is waarin 'n bejaarde man miljoene rand verloor het, word die gemeenskap opnuut gewaarsku om nie goedsmoeds enige finansiële slenters te glo nie.
Die slenter waarna onder meer verwys word, is die waarin 'n onbekende persoon beweer om 'n som erfgeld van 'n oorsese gestorwene beskikbaar te hê vir uitbetaling.
In die genoemde geval, het die bedrieër beweer dat 'n persoon met 'n soortgelyke identiteit as sy slagoffer, 'n som geld belê het wat nooit opgeëis is nie.
Nadat verskeie bewyse van die belegging se bestaan gelewer is, het die slagoffer genoeg vertroue in die transaksie gehad om wel mee te doen.
Wat egter verder gebeur het, is dat die bedrieër al hoe meer eise begin stel het in die vorm van tipes versekering en hanteringskoste om die belegging, wat etlike miljoene pond beloop het, aan die slagoffer oor te betaal. Die uiteinde was geweldige finansiële verlies vir die slagoffer en die saak word verder deur die polisie se handelstak op George ondersoek.
Gewetenloos
"Ons maan die publiek opnuut om transaksies wat klink of dit te goed is om waar te wees, met 'n knippie sout te vat. Bedrieërs is gewetenloos en begin stadig hulle slagoffers inkatrol op 'n subtiele manier. Moenie sonder meer vertrou nie. As dit te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik so," waarsku kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
Hy waarsku ook teen advertensies op sosiale media.
"Doen eers behoorlik navraag. Vergelyk pryse. Bedrieërs gebruik dikwels bekende name van ander besighede in hulle slagoffers se omgewing om hulself te maskeer. Dit klink bloot betroubaar omdat die bedrieër iemand anders se identiteit probeer aanneem," verduidelik Fourie.
Hy het ook genoem dat veral ouerwordende persone dikwels in hierdie strik trap.
"Dis hartseer wat met mense gebeur, daarom kan die polisie dit nie genoeg beklemtoon dat die gemeenskap waaksaam en bedag op slenters moet wees nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'