MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie ondersoek 'n saak van crimen injuria nadat 'n 57-jarige man sy werkgewer in 'n stemnota wat op WhatsApp gestuur is, die gewraakte h-woord toegesnou het.
Volgens inligting het die twee mans verlede Dinsdag, 26 November omstreeks 08:30 in Eilandstraat 'n woordewisseling gehad.
Ten tye van die voorval het die mans glo byna handgemeen geraak waarna hulle uitmekaar is.
Die 57-jarige werknemer het egter later die dag aan sy werkgewer 'n stemnota van net oor 'n minuut gestuur waarin hy hom uitskel met die p-woord, die h-woord en waarin hy hom dreig met aanranding. Die stemnota is aan die Mossel Bay Home Ads News verskaf.
Die 57-jarige man het ongeveer twee maande as 'n ambagsman vir die klaer in die saak gewerk ten tye van die voorval.
"Ek wou dit eers los, maar nog nooit in al my jare het enigiemand só met my gepraat nie. Die man se boodskap het my baie emosioneel gemaak en ontstel," het die klaer verlede week aan die Home Ads News vertel.
Die saak word ondersoek deur sers Donovan Geswindt van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'