MOSSELBAAI NUUS - ‘n Nege-en-twintigjarige man het homself vanoggend, op Maandag 26 April aan die KwaNonqaba-polisie oorgegee nadat hy na bewering ‘n mede-inwoner die afgelope naweek met ‘n skerp voorwerp doodgesteek het.
Die verdagte het homself glo oorgegee nadat hy deur die gemeenskap gedreig is en uit vrees dat die gemeenskap reg in eie hande sal neem.
Die slagoffer se broer het hom kort na die voorval na die Mosselbaai-provinsiale hospitaal geneem waar hy dood verklaar is.
Hy was na wat verneem word by die Marikana informele nedersetting met die verdagte in ‘n woordewisseling betrokke toe hy doodgesteek is. Die presiese datum van die voorval is nog nie bekend nie.
Die verdagte sal op Woensdag, 28 April in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op ‘n aanklag van moord. Hy bly in aanhouding tot sy eerste hofverskyning.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'